Die verhoor van ses mans wat na bewering oud-president Nelson Mandela se naam op padborde in Pretoria met dié van Clive Derby-Lewis vervang het, se saak is in die Pretoria landdroshof tot aanstaande jaar uitgestel.
Die staatsaanklaer, Sipho Letsoalo, het gevra dat die saak tot 27 Januarie uitgestel word aangesien die hof nog geen riglyne van die Nasionale Vervolgingsgesag ontvang het nie. Die ses mans is vroeër op borgtog van R1 000 elk vrygelaat. Die ses mans is Jan Beyers (31), Ben Geldenhuys (38), Tommy Harmse (33), Ewald Graefe (30), Cobus Pretorius (25) en Rian Combrink (27). Die mans is in Julie vanjaar in hegtenis geneem nadat hulle glo op kringtelevisie betrap is waar hulle plakkers met Derby-Lewis se naam oor dié van Nelson Mandela se naam op padborde in Sunnyside in Pretoria geplak het. Hulle word van openbare geweld, opsetlike saakbeskadiging en die oortreding van die Padverkeerswet aangekla. Derby-Lewis dien lewenslank tronkstraf uit vir sy aandeel in die moord op die SAKP-leier, Chris Hani.