Sesjarige aanskou ‘padwoede-aanval’ op pa

Bobby Cairns. Foto: www.looklocal.co.za

ʼn Vreesbevange 6-jarige seuntjie het homself in die motor toegesluit terwyl sy pa erg aangerand is in ʼn beweerde padwoede-voorval in Brakpan aan die Oos-Rand.

LookLocal Brakpan berig Bobby Cairns (41), sy vrou Vanessa en hulle seuntjie was op pad huis toe nadat hul by familie gekuier het toe die voorval sowat twee weke gelede plaasgevind het. Bobby sê die voorval het omstreeks 18:30 plaasgevind terwyl sy vrou bestuur het. Die gesin het glo in Ovalweg gery toe hulle ʼn beige Nissan Safari bakkie agter hulle opgemerk het. “Vanessa het by die spoedgrens van 60km/h gehou en die persoon agter ons het geïrriteerd geraak. Hy het ons verbygesteek en skielik hard voor ons motor gerem. Ons het amper in hom vasgery.” Hy sê Vanessa het uitgeswaai en die bakkie weer verbygesteek. “Die bakkie was vinnig weer agter ons en het ons weer verbygesteek. Die keer het hy ons aan die kant getref en die deur en spieëltjie beskadig. Ons het hom gevra of hy bereid is om vir die skade te bepaal , maar hy het weggejaag.”

Die bestuurder van die bakkie het by ʼn vulstasie gestop en uit die bakkie geklim. “Hy het ʼn staalpyp in sy hand gehad. Ek wou met hom praat maar hy het nie belanggestel nie en het terug in die bakkie geklim. Toe ek sy nommerplaat probeer neerskryf het hy oor my met sy bakkie raakgery. Ek het oor die bakkie gerol en die windskerm stukkend geval. Die bestuurder van die bakkie het uitgeklim en my met die pyp begin slaan.” Volgens die berig is daar kringtelevisiekamera-opnames wat die voorval bevestig. Twee van Cairns se tande is uitgeslaan terwyl hy minstens agt wonde aan sy kop opgedoen het. Een van die wonde moes 13 steke kry. Sy aanvaller het hom ook twee keer gebyt. Vanessa het haar man probeer help en is ook glo met die pyp geslaan. Die egpaar se seun het homself intussen in die motor toegesluit. Volgens Cairns het die polisie nie die man op die toneel in hegtenis geneem nie. Die polisie het intussen bevestig dat hy ʼn saak van aanranding met die doel om ernstig te beseer ondersoek.

Lees meer hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.