Seun (17) beland in hospitaal na rugbywedstryd

Estian Esterhuizen van die Hoërskool Oos-Moot. Foto: Theana Breugem, Beeld

’n Rugbywedstryd tussen twee Pretoriase hoërskole is Vrydagmiddag gestop toe ’n bakleiery tussen van die spelers uitgebreek het. Een van die seuns is met ‘n ambulans hospitaal toe geneem.

Beeld berig Estian Esterhuizen (17), ’n reserwe van Hoërskool Oos-Moot se tweede rugbyspan, is in die gesig geskop en talle kere op die rug en kop geslaan. Hoërskool Oos-Moot en die Hoër Tegniese Skool Pretoria-Tuine se tweede spanne het Vrydagmiddag mekaar die stryd aangesê toe die voorval plaasgevind het.

Estian, ’n flank, is sowat drie minute in die tweede helfte in op die veld gestuur. “Ek was skaars twee minute op die veld toe die geveg begin het,” het Estian gesê.
“Die vleuel is uitgeduik. Nadat die bal doodgedruk is, het die ander spelers aan die vleuel begin ruk en stamp. Ek het nader gehardloop en die vleuel uit die geveg getrek. Net toe ek hom uittrek, het ’n ou my van agter gestamp dat ek op die grond geval het. Ek het my gesig met my arms toegemaak terwyl ek oor my kop en rug geslaan is. Net toe ek wou opstaan, het iemand my op my voorkop geskop. Toe pass ek uit. Ek kan nie onthou wat daarna gebeur het nie,” het Estian vertel.

Mev. Suzette Esterhuizen, wat langs die veld was, het na haar seun gehardloop. Toe sy by hom kom, het hy gelê en ruk. Estian, ’n diabeet, is na die Eugène Marais-hospitaal geneem. Hy het niks gebreek nie, maar moet ’n nekstut dra weens swelling aan die nek. Hy het ook baie hoof- en rugpyn.

Mnr. Chris Esterhuizen het die aanranding op sy seun by die polisie aangemeld.

Beide die hoërskole is besig om die voorval te ondersoek.

Die voorval volg skaars ʼn maand na ʼn leerling van Hoërskool Hans Strijdom ʼn Blou Bulle Rugbyskeidsregter tydens ʼn toernooi in Mookgophong (voorheen Naboomspruit) met die kop bewusteloos geslaan het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.