Seun steeds kritiek ná taxi hom omry, sleep

Dillon Bernatz saam met sy ma, Sally Grindling. Foto: www.looklocal.co.za

ʼn 15-jarige seun van Johannesburg is steeds in ʼn kritieke toestand in die hospitaal nadat hy sowat twee weke gelede deur ʼn taxi omgery en meters ver gesleep is.

LookLocal Springs berig dat Dillon Bernatz sowat twee weke gelede in Geduld deur ʼn taxi omgery en sowat 30m ver gesleep is. Die taxi het glo ʼn rooi verkeerslig verontagsaam. “Sy kop het die windskerm getref waarna hy onder taxi beland het. Sy klere het aan iets onder die taxi vasgehaak,” het Bernatz se ma, Sally Grindling, gesê. Grindling sê sy het ʼn oproep ontvang van iemand wat die voorval sien gebeur en stilgehou het om haar seun te help. “Hy het saam met Dillon gewag tot paramedici op die toneel gekom het, en het agter die ambulans aangery tot by die hospitaal.” Bernatz is steeds in ʼn kritieke toestand in die Charlotte Maxeke hospitaal. Sy regterlong het plategeval weens gebreekte ribbes en hy word kunsmatig in ʼn koma gehou. Grindling sê haar seun sal na verwagting nog drie maande in die hospitaal wees waarna hy intensiewe rehabilitasie sal moet ontvang vir sy been wat ook in die ongeluk vergruis is. “Die dokters het aan my gesê dat ek ʼn baie sterk jong man grootgemaak het aangesien hy baie hard veg om aan die lewe te bly.” Die taxibestuurder het volgens berigte van die toneel gevlug kort nadat paramedici opgedaag het. Grindling sê die taxibestuurder se besonderhede is deur ooggetuies afgeneem en aan die polisie oorhandig.

Lees meer hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.