Seun sterf na kopskoot oor raserige musiek

Peter Robertson. Foto: Facebook

Peter Robertson. Foto: Facebook

’n Afgetrede eiendomsagent het sy voormalige buurman se seun geskiet oor hy glo te hard musiek geluister het, berig Rapport.

David Ridgeway (66) het glo in die tuin van Peter Robertson (19) se gesin se huis in Brackendowns weggekruip. Toe Robertson saam twee vriende by die huis aankom is hy glo deur Ridgeway beveel om op die grond te lê. Ridgeway het toe glo drie skote afgevuur waarvan een vir Robertson in die kop getref het. Calvin Main, Robertson se vriend, is in die been geskiet terwyl die derde koeël die ander vriend, Jonathan de Freitas, gemis het. Ridgeway het probeer vlug waarna hy in die swembad geval het. Hy het homself glo hierna herhaaldelik in die kop probeer skiet maar kon nie daarin slaag nie aangesien die rewolwer nat was. Robertson is na die Union-hospitaal in Alberton geneem waar hy in ʼn koma was. Rapport berig intussen op sy webtuiste dat Robertson gistermiddag oorlede is.

Ridgeway is intussen in hegtenis geneem. Die polisie het glo ʼn gedetailleerde plan en selfmoordbrief op Ridgeway se skootrekenaar gevind. Hy is geskei en het glo finansiële probleme gehad. Ridgeway het in ʼn huis langs die Robertsons gewoon maar het vier maande terug in ʼn gastehuis ingetrek nadat sy vrou hom gelos het. Hy het destyds glo herhaaldelik gekla oor Peter wat sy musiek te hard speel. “Ek dink die lewe het te veel vir hom geraak en hy wou sy frustrasies op my en Peter uithaal,” het Peter se pa gesê. ʼn Vriend van Ridgeway het in September die polisie in kennis gestel dat Ridgeway homself wil doodmaak. Sy sê die polisie kon die tragedie vermy het maar het eerder niks daaraan gedoen nie. Kol Noxolo Kweza, woordvoerder van die polisie, sê volgens hulle inligting wou hy homself doodmaak maar het hy nie ʼn bedreiging vir iemand anders ingehou nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Henko ·

Waarom kan mense nie aanvaar as die huwelikbootjie gesink het nie. Om selfmoord te pleeg neem nie die pyn en hartseer van oorblywende familie en vriende weg nie, mense sit met skuldgevoelens oor waarom, of wat kon ek doen om te help – selfs die polisie het nie hul plig nagekom nie.

Wat ‘n tragedie het hierdie man veroorsaak om ‘n jongman se lewe weg te ruk.

Sterkte aan sy ouers en familie.

Elize Christowitz ·

Innige simpatie aan die Robertson familie. Mag God julle sterkte geen deur hierdie vreeslike tyd.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.