Seuns deur boelies by ysskaatsbaan aangeval

Argieffoto

ʼn 14-jarige seun en twee van sy maats is Saterdag by die ysskaatsbaan in die Kempton Festival-winkelsentrum glo deur boelies aangeval.

Die seun, wie se identiteit weerhou word uit vrees vir viktimisasie,  moes ʼn dag ná die aanval in die Arwyp-hospitaal opgeneem word nadat hy begin koors en erge hoofpyne ontwikkel het. Sy maats het nie erge beserings opgedoen nie.

ʼn Tannie van die seun het aan Maroela Media gesê hy gaan gereeld oor naweke by die winkelsentrum ysskaats. “Hy en sy vriende het geskaats toe ʼn groep onbekende seuns hulle glo omgestamp het en op die ys geskop het. Die seun het sy kop hard gestamp toe hy geval het,” het die tannie gesê.

Die seun is Sondag in isolasie geplaas en daar was gevrees dat hy ʼn virus in sy bloedstroom gekry het. Die seun toon intussen goeie vordering en is Dinsdag uit die hospitaal ontslaan. “Hy is egter nog baie swak en mag nie baie aktief wees nie. Hy kan ook nie lekker onthou wat gebeur het nie.”

Die ouers gaan ʼn klagte van aanranding by die Kemptonpark-polisie aanhangig maak. Klagtes word ondersoek of daar meer boelie-verwante aanvalle in die gebied plaasgevind het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.