Seuntjie oorleef haai-aanval danksy barmhartige samaritane

Logan Hamby Foto: Alex City Outlook http://www.alexcityoutlook.com/2013/11/01/6-year-old-survives-shark-attack/

Logan Hamby Foto: Alex City Outlook http://www.alexcityoutlook.com/2013/11/01/6-year-old-survives-shark-attack/

Logan Hamby (6) is in Miami, Amerika deur ʼn haai aangeval, maar hy het wonderbaarlik oorleef nadat vreemdelinge die haai aangedurf het.

Logan, van Dadeville in Alabama, en sy gesin het in Miami vakansie gehou. Hy het ʼn paar meter van sy ouers af in kniehoogte water gespeel toe die haai hom aangeval het. Kenneth en Donna Hamby, Logan se ouers, het aan die Alex City Outlook gesê hulle het hul seun hoor gil. “Ek het dadelik opgespring, maar gedink dit is ʼn jellievis. Toe ek nader kom het ek die haai se vin by my seun gesien,” het Kenneth gesê.

Kenneth het toe besef die 1.5 meter lange haai het Logan se been beet en probeer om die kind onder die water in te trek. “Toe hy die tweede keer onder die water ingetrek word, het die haai hom dieper probeer intrek. Drie sekondes later en ek dink nie ons sou hom kon red nie.”

Kenneth het sy seun vasgegryp en die seun se ma het die haai se bek probeer ooprek. Maar twee barmhartige samaritane, Chris Wilson en Antonio Ruiz, het die ma weggestamp en die vis met hul vuiste begin bydam. Die haai het uiteindelik laat los.

“Dit was vreesaanjaend,” het Donna gesê. “Dit het alles so vinnig gebeur, maar dit het gevoel of alles in stadige aksie gebeur. Dit was asof my ledemate nie gou genoeg kon beweeg nie.”

Kenneth en Donna het Logan se been met ʼn T-hemp verbind voordat nooddienswerkers ʼn paar minute later by die toneel opgedaag het. Logan is na ʼn hospitaal geneem waar dokters die vyf diep gate toegewerk het.

Dit is nog nie duidelik wanneer die voorval plaasgevind het nie, maar die seun het steeds sy verband aangehad toe hy Vrydag met Alex City Outlook gesels het.

Die gesin wou ʼn visvanguitstappie vir die volgende dag kanselleer, maar Logan, ʼn ywerige hengelaar, het daarop aangedring dat hulle steeds gaan visvang. Hy is glo nog steeds nie bang vir die see nie, selfs nie nadat die haai hom aangeval het nie. “Hy vang weer vis en alles is weer normaal,” het Kenneth gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.