Seuntjie sterf op pretparkrit

Foto: www.royalshow.co.za

ʼn Vyfjarige seuntjie is tydens ʼn fratsongeluk dood op ʼn pretparkrit in Pietermaritzburg.

“Die seun was Donderdagmiddag op ʼn pretrit by die Royal Show toe die voorval plaasgevind het,” het lt. Joey Jeevan, woordvoerder van die polisie in KwaZulu-Natal, Vrydag gesê. “Na bewering het die kind opgestaan toe die rit aan die gang was, en hy is ongelukkig deur een van die ander karretjies getref.”

East Coast Radio berig die seuntjie se naam is Simphiwe Mbense wat saam met sy laerskool op ‘n uitstappie die skou bygewoon het.

Volgens Jeevan het die operateur, wat die ongeluk sien gebeur het, die rit dadelik gestop en ER24-nooddienste is onmiddellik ontbied. Die seun het behandeling ontvang en mond-tot-mondasemhaling is op hom toegepas. Hy is op die toneel dood.

Jeevan sê ʼn geregtelike doodsondersoek sal uitgevoer word en die polisie ondersoek die omstandighede van die voorval.

“Die hoof uitvoerende beampte van die Royal Show is erg geskok deur die fratsongeluk en betoon sy meegevoel aan die familie,” het Jeevan bygevoeg. “Hy verseker die publiek dat ʼn deeglike ondersoek sal plaasvind.”

-SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

michele ·

Hoekom het die kind opgestaan en hoekom het hul hom nie vasgemaak nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.