Sewe PTA-metropolisiebeamptes vas oor korrupsie, intimidasie

Sewe metropolisiebeamptes van Tshwane is Donderdag in hegtenis geneem op aanklagte van intimidasie en korrupsie.

ʼn 23-jarige straatverkoper van Zimbabwe wat in die middestad van Pretoria handel dryf, het die klagte ingedien, het Console Tleane, woordvoerder van die stad Tshwane, gesê.

“Die straatverkoper beweer dat die beamptes sy goedere onwettig konfiskeer het omdat hy glo onwettig handel dryf,” het Tleane gesê. Roomys, pakkies skyfies, en lugtydgeskenkbewyse van R1 600 is van die goedere wat onwettig gekonfiskeer is.

Die man het die klag op 22 Oktober by die metropolisie se internesake-eenheid gelê. Die man beweer dat hy op dieselfde dag deur die beamptes na Fonteinevallei-oord, net buite die stad, geneem is en daar gelaat is om weer op eie stoom sy weg terug te vind middestad toe. Sy goedere is glo by die oord onwettig gekonfiskeer.

Die straatverkoper beweer verder dat hy weer op 4 November genader is en dat R500 se lugtydgeskenkbewyse dié keer by hom afgeneem is. “Hy het gesê hy is ook R500 beboet vir onwettige handel en dat hy geïntimideer is,” het Tleane gesê.

Die beamptes is vir onderhoude ingeroep en verklarings is geneem.

“Nadat hy die klagtes gelê het, het die beamptes hom weer opgespoor en op 24 November in hegtenis geneem op onbeduidende klagtes soos dat hy ʼn “voetganger is wat gevaar veroorsaak” en dat hy onwettig in die stad handel dryf,” het Tleane bygevoeg.

Die beamptes het glo ook sy asieldokumente by hom afgeneem.

Die straatverkoper het ʼn skulderkenningsboete betaal en het weereens die metropolisie se internesake-eenheid genader.

Die internesake-eenheid het na al dié verwikkelinge hom aangeraai om ook ʼn saak van intimidasie by die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) aanhangig te maak.

Die beamptes, ses mans tussen 23 en 37 jaar oud, en een 40-jarige vrou, is in hegtenis geneem en by Pretoria Sentraal se polisiestasie aangehou. Volgens Tleane sal hulle ook binnekort aan dissiplinêre stappe onderwerp word. Hulle sal ook aangekla word dat hulle die departement se naam in gedrang gebring het sowel as klagtes van oneerlikheid en korrupsie.

“Hul aanstellingsertifikate, rangembleme, en vuurwapens is gekonfiskeer,” het Tleane bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.