Sewe ‘renosterstropers’ in Limpopo gevang

Argieffoto

Sewe vermeende renosterstropers verskyn binnekort in die hof nadat hulle vroeër op ʼn plaas in die Alldays-omgewing vir renosterstropery in hegtenis geneem is.

Kol. Ronel Otto, ʼn woordvoerder van die Limpopo-polisie, het Donderdag gesê die verdagtes is Dinsdagoggend in hegtenis geneem terwyl hul glo onderweg was om ‘n renoster vir sy horings dood te maak.

“Lede van die teenstroping- en georganiseerdemisdaadeenheid het leidrade opgevolg en die verdagtes se beweging fyn dopgehou. Die verdagtes is omstreeks 10:00 vasgetrek toe hulle die plaas wou betree waar hulle vermoedelik sou toeslaan,” het Otto gesê.

Die polisie het beslag gelê op drie voertuie, ʼn jaggeweer wat onder een van die voertuie vasgemaak was, ʼn byl en ammunisie. Drie van die verdagtes is van Mosambiek afkomstig, een is van Zimbabwe en drie van Suid-Afrika.

Die verdagtes kan moontlik verbind word met voorvalle van renosterstropery in Lulekani, Gravelotte en die Krugerwildtuin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.