Sewe vas oor skoonheidskoningin se moord

Monica Spear toe sy as Mej. Venezuela gekroon is

Monica Spear toe sy as Mej. Venezuela gekroon is

Sewe mense, insluitend ʼn vrou en twee tieners, is in hegtenis geneem in verband met die moord op ʼn voormalige skoonheidskoningin en haar man.

Monica Spear (29), ʼn voormalige Mej. Venezuela en telenovela-aktrise wat in Amerika gebly en gewerk het, was saam met haar man, Thomas Henry Berry (39) met vakansie in Venezuela toe hulle doodgeskiet is. Hul vyfjarige dogter is gewond in die voorval.

Die gesin se motor het onklaar geraak en hulle het hulself in die motor toegesluit toe gewapende rowers op hulle toegeslaan het. Die vermeende rowers het egter op die gesin losgebrand en Spear is dood ná ʼn enkele skoot haar getref het.

Staatsaanklaers het gesê sewe mense is in hegtenis geneem vir hul vermeende betrokkenheid by die aanval. Die vier mans, een vrou en twee tieners is met van die gesin se besittings betrap.

Daar is vroeër aangekondig dat vyf mense in verband met die voorval aangehou word.

President Nicolas Maduro het onderneem om met ʼn “yster hand” teen die misdadigers op te tree.

Spear en Berry het vroeër saam ʼn reisagentskap in Venezuela bedryf en het in 2008 getrou. Hulle paaie het later geskei, maar dit is nie duidelik of hulle wettig van mekaar geskei is nie.

Katty Pulido, Spear se bestuurder, het gesê sy is in die regterarm getref en noodlottig gewond. Berry is drie keer geskiet. Hul dogter Maya is in die regterbeen geskiet en na ʼn privaathospitaal geneem. “Sy is tans in ʼn stabiele toestand en word deur haar grootouers versorg,” het Pulido gesê.

Jose Gregorio Sierralta, forensiese polisie-direkteur, het gesê die gesin het op ʼn snelweg gery toe hul motor ʼn voorwerp, wat op die pad geplaas is, getref het. Dit het die gesin gedwing om af te trek. Spear het ʼn verbygaande insleepvoertuig se aandag getrek en dié persone het gestop om te help, maar toe die twee werknemers met die hyskraan doenig was, het vyf gewapende mans te voorskyn gekom.

Die twee persone wat in die insleepvoertuig gery het, het na ʼn polisiestasie, sowat 1.5 km ver van die toneel af, gevlug.

Die sterftes werp lig op die misdaadprobleem in die land. Talle inwoners wil nie meer in die aand uitgaan nie, en motoriste skaf pantservoertuie aan en verhoog veiligheid by hul huise. Venezuela het een van die wêreld se hoogste moordkoerse met 79 moorde per 100 000 inwoners in 2013, volgens die land se nie-winsgewende organisasie, Violence Monitor. Volgens statistiek van die land se departement van binnelandse sake is dit egter 39 moorde per 100 000 inwoners.

“Ek kan nie meer iewers heengaan nie,” het die aktrise Elba Escobar gesê. “As ek in die aand iewers moet wees, dan verkies ek om saam met twee of drie vriende te gaan.”

ʼn Inwoner, Maria Arteaga (41), het gesê sy kan nie meer haar ouers besoek nie, aangesien hulle in ʼn “gevaarlike woonbuurt” bly. “Ek is bang om bank of restaurant toe te gaan of uit my huis uit te gaan,” het Arteaga gesê.

Lees ook:
Oud-skoonheidskoningin en man doodgeskiet

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Chivago ·

“Die sterftes werp lig op die misdaadprobleem in die land”
Klink soos Suid Afika!

Justi ·

Julle is reg. Dit is net soos hier in SA. Persoonlik dink ek dis erger in SA en vererger by die dag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.