ʼn Sewejarige meisie is dood nadat sy glo voedselvergiftiging by ʼn koshuis in die Oos-Rand van Johannesburg opgedoen het.
Die Gautengse departement van gesondheid het Maandag in ʼn verklaring gesê die meisie was een van 26 koshuisinwoners by die Aurora Comprehensive School in Ekurhuleni wat vermoedelik almal voedselvergiftiging opgedoen het. “Op 18 April het 10 leerlinge gekla dat hulle hoofpyn en maagkrampe het, en naar is,” het Chris Maxon, die departement se woordvoerder, gesê. “Die kinders is na die Arwyp-hospitaal geneem. Vier leerlinge is in die hospitaal opgeneem, ses is behandel en weer ontslaan.”
Die sewejarige is op 19 April by die skool oorlede. Na haar dood is nog 15 leerlinge na die Tembisa-hospitaal geneem. Een leerling is opgeneem en 14 is behandel en weer ontslaan.
Die Wits-mediese skool doen toetse op verskeie kossoorte om die oorsaak te bepaal. Dié toets se uitslag is nog nie bekend nie. Boorgatwater van die skool word ook getoets.