Sexwale ondersteun glo Malema-familietrust

Tokyo Sexwale en Julius Malema. Foto's: GCIS en Sapa

’n Maatskappy wat gedeeltelik deur ­Tokyo Sexwale, minister van huisvesting, besit word, het glo sowat R100 000 in die familietrust van Julius Malema betaal.

City Press berig dít blyk uit die veelagentskap-ondersoek na bewerings van bedrog, korrupsie en belastingontduiking teen Malema en sy bondgenote in Limpopo. Drie bronne na aan die ondersoek het aan City Press bevestig ’n betaling in Desember van R100 000 van ­Mvelaphanda Holdings aan Malema se Ratanang-familietrust is bespeur.

“Mvelaphanda Holdings, waarvan minister Sexwale nie meer aan die stuur van sake staan nie, was nog altyd en is ingevolge die reg daarop geregtig om skenkings te doen aan trusts betrokke by maatskaplike ontwikkeling,” het Xolani Xundu, Sexwale se woordvoerder, aan City Press gesê. “Indien dit skenkings verskaf het aan sulke trusts sal dit nie ’n geheim wees om byvoorbeeld deur die Valke ‘ontdek’ te word nie, want sulke skenkings sal bekend wees aan die meester van die hof en die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, aan wie sulke trusts rekenskap moet gee.”

Xayiya het gesê sy maatskappy reageer nie op “mediabespiegelings” nie. “Mvelaphanda Holdings is ’n private maatskappy met ’n maatskaplike gewete,” het Xayiya gesê.

Malema se prokureur het gesê die voormalige jeugleier se sake is vertroulik en dat hy weier om dit in die openbaar te bespreek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.