Sexwale wil glo leisels by Zuma oorneem

Tokyo Sexwale. Foto: GCIS

Tokyo Sexwale, minister van huisvesting, wil glo die volgende president word.

Volgens die City Press het vier ingeligtes na aan ­Sexwale aan die koerant bevestig dat Sexwale ’n veldtog voer om in Desember die leisels oor te neem wanneer die ANC sy nuwe leiers kies. Dié verwikkeling volg op toenemende ongelukkigheid oor hoe Zuma die sage rondom luitenant-generaal Richard Mdluli, die polisie se voormalige intelligensiebaas, hanteer. Hoewel die presidensie dit ontken, is daar gerugte dat Zuma vir Mdluli beskerm.

Sexwale word in ’n intelligensieverslag as die leier van ’n groep mense geïdentifiseer wat hulle beywer om ­Zuma te ontsetel. Na wat verneem word gaan Sexwale advokaat Thuli Madonsela, openbare beskermer,  vra om die verslag te ondersoek.

Die koerant berig voorts Sexwale is glo na aan die ANC-jeugliga en het ’n paar maande gelede tydens die tugverhoor van Julius Malema, uitgeskopte ANC-jeugleier, vir Malema getuig.

Xolani Xundu, Sexwale se woordvoerder, het Saterdag gesê Sexwale “sal sy standpunte op die regte tyd en plek bekend maak”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.