Shabangu R50 miljoen aangebied “om weg te stap”

Die sakeman Roux Shabangu beweer dat die voormalige minister van openbare werke, Geoff Doidge, hom R50 miljoen aangebied het om weg te stap van die polisie se omstrede huurskandaal van R500 miljoen.

City Press berig dat Shabangu die bewering gemaak het in ʼn beëdigde verklaring wat die week by die Noord-Gautengse hooggeregshof ingedien is. Shabangu sê hy het egter geweier om af te sien van die huurooreenkoms. Hy blameer Doidge en die departement van openbare werke daarvan dat hulle ʼn R220 miljoen finansieringooreenkoms in die gedrang gestel het met Nedbank om die gebou te koop. Die huurooreenkoms van R500 miljoen is gekanselleer nadat die Openbare Beskermer, Thuli Madonsela, bevind het dat die huurooreenkoms sonder ʼn tender aan Shabangu toegestaan is. Dié huurkontrak het reeds die kop van Gwen Mahlangu-Nkabinde, Doidge se opvolger, geëis, en tot die skorsing van genl. Bheki Cele, polisiehoof, gelei. Doidge is einde verlede jaar in geheimsinnige omstandighede deur pres. Jacob Zuma afgedank. Volgens Shabangu se beëdigde verklaring het die geskorsde direkteur generaal van openbare werke, Siviwe Dongwana, aan Nedbank gesê het dat die departement met die ooreenkoms sou voortgaan, ongeag die uitkoms van Madonsela se ondersoek.

Lees meer hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.