Sharks draf Kings kaf

Die Sharks het Saterdagaand die Southern Kings in beide spanne se laaste Super15-kragmeting van 2013 met 58-13 in Durban verneder. Die halftydtelling was 26-13.

Die Sharks het altesame nege drieë, drie in die eerste helfte en ses in die tweede helfte, ingeryg in ‘n eensydige skouspel. Die Kings het ten minste twee drieë deur middel van George Whitehead en Mpho Mbiyozo gedruk en Whitehead het ‘n strafdoel oorgeklits, maar kon geen punte in die tweede helfte aanteken nie. Whitehead het die wedstryd se eerste drie gedruk, maar die Sharks se Marcell Coetzee het kort daarna voldoende momentum gehad om hom oor te stuur vir sy span se eerste drie. Die verwoestende Sharks-pak het daarna die Kings met ‘n dryfmaalbeweging verniel sodat die Springbok Bismarck du Plessis die tweede een kon druk. Odwa Ndungane het die Durbaniete se derde een aangeteken toe hy die bal vorentoe geskop het en danksy Kings-mistastings agter die doellyn die bal kon druk.

Die tweede helfte was dit eenrigtingverkeer met Riaan Viljoen wat sy ore plat getrek en met sy momentum oor die doellyn geskuur het vir drie nommer vier. Tenday Mtawarira, wat weer besig is om sy Bok-vorm te herwin, het daarna sy brute krag gebruik om van agter ’n losskrum weg te breek en agter die doellyn te kuier. Louis Ludik het later met ‘n fop-aangee en hope momentum nommer ses ingeryg waarna die Sharks-kaptein, Keegan Daniel, die bal agter ’n skrum opgetel en Shaun Venter geklop het op pad doellyn toe vir nommer sewe. Fred Zeilinga het nommer agt gedruk toe hy ’n netjiese kort aangee deur Mtawarira gevang en sowat helfte van die veld haastig deurkruis het na die doellyn. Meyer Bosman, wat ’n gemiddelde dag met die skopskoen beleef het, het die laaste drie gedruk toe Lwazi Mvovo die Kings-verdedigers laat bontstaan het en toe vir Bosman gegee het om af te rond.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Chris ·

Slegs die promosie -relegasie wedstryd sal bepaal of die Kings in die Super15 hoort al dan nie..Beslis nie vandag se wedstryd nie.Dit is mos algemene kennis dat die Kings 12 veranderinge aangebring het en met sy B span gespeel het teenoor die Sharks span vol Springbokke met emosionele afskeidsgeskenke vir afrigters en spelers wat weggaan.Sou jy die Kings se vertoning van verlede week meet teenoor die Bulls wat bo-aan die Suid-Afrikaanse konferensie is se vertoning vandag teen die Stormers het die Kings baie beter gevaar as die Bulls teen die Stormers.
Alles is relatief van wedstryd tot wedstryd.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.