Sharks soos visse op droë grond in Brisbane

Die Sharks het nog ‘n nederlaag in Australasië gely toe hulle met 32-17 die onderspit teen die Reds in Brisbane gedelf het.

Die halftydtelling was ‘n intimiderende 29-3 en die Sharks kan hulself daaraan troos dat hulle darem twee drieë deur middel van Piet Lindeque en Derick Minnie gedruk het in die tweede helfte. Pat Lambie het beide verdoel en met ‘n strafskop geslaag.

Die besoekers het egter geen leerpunte uit hierdie stryd verdien nie. In die Sharks se verdediging moet daar egter melding van hul noemenswaardige krukkelys gemaak word met onder meer Tendai Mtawarira, Cobus Reinach en Bismarck du Plessis wat almal mank is.

Die Reds het ‘n volle vyf punte op die puntelere bekom danksy hierdie oorwinning. Die haker Saia Faingaa en senter Anthony Faingaa het elkeen een drie gedruk terwyl die vleuel Rod Davies twee keer agter die pale gaan kuier het. Quade Cooper het drie van hierdie drieë verdoel en twee strafdoele oorgeklits om sy span gemaklik te laat wen.

Sharks het ‘n paar weke terug laas teen die Crusaders gewen en is sedertdien op die verloorpad met vier nederslae in ‘n ry. Hulle lê nou onderskeidelik derde en negende op die Suid-Afrikaanse en algehele puntelere en hul hoop om steeds die uitspeelrondes te haal, is bitter skraal.

Die Reds is nou op pad Suid-Afrika toe om eers teen die Cheetahs en dan teen die Stormers te speel. Die Sharks gaan volgende week die onderskatte Force in Perth aandurf en die draaiboek kan dieselfde lyk as vandeesweek as hulle nie verbeter nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.