Shatner vies oor Star Trek-belastingvideo

William Shatner

William Shatner, Star Trek-akteur, het die belastingowerhede in Amerika beskuldig dat hulle duisende dollar gemors het op ʼn gekskeervideo van dié kultustelevisiereeks.

Shatner, wat die rol vertolk het as kaptin James T. Kirk, die Starship Enterprise se bevelvoerder, het op Twitter sy misnoeë met die video op YouTube betuig. Die Interne Inkomstediens (IRS) het nou verskoning gevra vir die video. “Ek het die IRS-video gesien. Ek is erg teleurgesteld deur die absolute vermorsing van Amerikaanse belastinggeld,” het Shatner aan sy 1.4 miljoen volgelinge getwiet.

In die ses minuutlange video vertolk akteurs sleutelkarakters van Star Trek, insluitend kaptein Kirk en Spock en ruil grappies oor belasting uit. “In Rusland het ek gedroom dat ek eendag ryk en beroemd sal wees,” sê een van die bemanningslede in die video. “Ek ook, dis hoekom ek ʼn staatsamptenaar geword het,” antwoord sy kollega.

Die IRS sê die video is in 2010 tesame met ʼn ander video, gebaseer op die sit-kom Gilligan’s Island, vervaardig teen ʼn bedrag van $60 000 om by ʼn IRS-opleiding- en leierskapkonferensie gebruik te word. Die IRS het om verskoning gevra vir die video, wat glo uiteindelik by 400 verskillende geleenthede vertoon is, berig die Los Angeles Times. “Die ruimte-gekskeervideo van 2010 is nie verteenwoordigend van IRS-videopogings wat noodsaaklike inligting aan belastingbetalers verskaf en tydens IRS-opleiding gebruik word nie. Die IRS het boonop hoë standaarde in plek gestel om seker te maak dat só situasie in die toekoms vermy word,” het die IRS in ʼn verklaring gesê.

Hier is die video:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.