Sheldean-moordenaar in tronk vermoor

'n Plakkaat met 'n foto van Andrew Jordaan word aan die brand gesteek tydens sy verskyning in die hooggeregshof in Pretoria op 9 Junie 2008. Foto: Jaco Marais/SAPA

Die man wat in 2008 lewenslank tronk toe gestuur is vir die moord op die sewejarige Sheldean Human, is Sondag in die Leeuwkop gevangenis vermoor.

ʼn Woordvoerder van die departement van korrektiewe dienste, Ofentse Morwane , sê Andrew Jordaan is Sondagoggend dood nadat hy deur ʼn medegevangene, Justice Mazuwa, aangerand is. Mazuwa dien 15 jaar tronkstraf uit vir moord en diefstal. Morwane sê besonderhede rondom die aanranding is steeds vaag en dat die departement die saak ondersoek. Hy sê die polisie is ontbied en ʼn saak is aanhangig gemaak teen die ander gevangene.

Sheldean Human

Jordaan is in Junie 2008 lewenslank tronkstraf opgelê vir die moord op Human. Hy is ook tot ʼn bykomende drie jaar tronkstraf gevonnis vir ontvoering en ʼn verdere tien jaar omdat hy haar probeer verkrag het. Human het op 18 Februarie 2007 vermis geraak nadat sy en ʼn maaitjie saam met Jordaan van ʼn park in die omgewing teruggekeer het na ʼn kommune in Pretoria Tuine. Human se lykie is sowat twee weke later in ʼn stormwaterdrein tussen die varsproduktemark en die Tshwane Universiteit vir Tegnologie (TUT) gevind. Jordaan het haar lyk aan die polisie uitgewys nadat hy deur baasspeurder, brig. Piet Byleveld, ondervra is. Byleveld is by die saak betrek nadat daar koerantuitknipsels van die Leigh Matthews-saak in Jordaan se kamer gevind is. Byleveld het die opspraakwekkende moord op Matthews in 2004 opgelos.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.