Shell moet antwoord oor hidrobreking – AfriForum

KarooAfriForum het ʼn brief aan RoyalDutch Shell en Shell (SA) gerig waarin die maatskappye uitgenooi is om met die burgerregte-organisasie in gesprek te tree oor verskeie vrae wat deur verteenwoordigers van gemeenskappe dwarsoor Suid-Afrika ingedien is waarin hulle hul kommer oor skaliegasontginning en hidrobreking (fracking) uitspreek.

“As burgerregtewaghond is AfriForum bekommerd oor die moontlike gevolge van skaliegasontginning in Suid-Afrika. In die huidige omstandighede en met die inligting tot ons beskikking is ons gekant teen hierdie vorm van skaliegasontginning in Suid-Afrika,” het Julius Kleynhans, hoof van omgewingsake by AfriForum, gesê.

Die brief skep die geleentheid om belangrike kwessies soos betekenisvolle openbare deelname, die negatiewe impak op infrastruktuur, besoedeling, bedryfsbestuur, uitlatings oor die gevolge van skaliegasontginning en die gebrek aan behoorlike navorsing te bespreek.

AfriForum het Shell versoek om alternatiewe vorme van regulering en toepassing te verskaf om te verseker dat wigte en teenwigte ingestel is in die geval dat die regering die proses nie behoorlik reguleer nie. “Ons wil weet of Shell gewillig sal wees om ʼn bepalings-en-voorwaardes-dokument te onderteken waardeur hulle onderneem om AfriForum se lede wat negatief deur hidrobreking geraak word te vergoed. Voorwaardes kan deur oorlegpleging tussen Shell en AfriForum vasgestel word.”

Die Alliansie, wat bestaan uit AfriForum en Treasure the Karoo Action Group, sal voortgaan om skaliegasontginning in Suid-Afrika teen te staan. “Ons sal nie deur ondeurdagte stellings, leë beloftes oor deelname en drogpraatjies deur die land se leiers om die bos gelei word nie. Die impak van ʼn oningeligte besluit soos hierdie op ʼn sensitiewe omgewing soos die Karoo is net te beduidend.”

Ondersteun AfriForum in hierdie inisiatiewe. SMS “Karoo” na 32277. R1/SMS.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Fanie Schoeman ·

Ek ondersteun hierdie voorgenome aksie heelhartig.Ek is nie op hoogte aangaande die huidige stand van sake nie, maar het dit dat die regering goedkeuring verleen het dat proses kan voortgesit word.Is dit wel die geval of is daardie stadium nog nie bereik nie?Graag sal ek ,en ek glo baie andere ook, ingelig wil bly aangaande die rotskraking van skalie in die Karoo.Ek het vroer jare self daar gewerk tydens uraan eksplorasie wat alreeds nie n lekker ding was nie.Die eksplorasie destyds het slegs boorgate en n voor-ontwikkeling mynskag tot gevolg gehad.Totale impak was dus beperk.Hierdie ‘fracking’ het, soos alreeds bekend, n baie negatiewe gevolg ,op n unieke landskap wat eerder as n erfenisgebied oorweeg sou moes word, of ten minste groot dele daarvan bewaar word en nie opgekraak word vir ewig en altyd nie.Kom ons hou hierdie debat warm tesame met die red van ons renosters.Vestig liewer renosters in die Karoo,wek meer sonkrag daar op,lok toerisme na uitsoek bestemmings en bewaar die historiese gedenkwaardighede.Dr.Anton Rupert het die versiendheid gehad en vir ons n skat gelaat.Laat ons alles in ons vermoe doen om hierdie absurde aksie teen te staan,indien nog nie alreeds te laat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.