Shuttleworth wen ‘n bietjie, verloor ‘n bietjie

Mark Shuttleworth

Miljardêr entrepreneur Mark Shuttleworth se aanbod om Suid-Afrika se hele valutabeheerstelsel ongrondwetlik te verklaar, het gefaal.

Die Pretoriase hooggeregshof het Donderdag Shuttleworth se aansoek om die hele artikel 9 van die Geldeenheid- en Wisselkoerswet en alle valutabeheerregulasies ongrondwetlik te verklaar, van die hand gewys. Regter Francis Legodi het Shuttleworth se aansoek om die R250 miljoen-heffing wat hy in 2009 betaal het om sy bates uit die land te kry tersyde te stel en ʼn aansoek dat die Reserwebank dié geld aan hom moet terugbetaal, van die hand gewys.

Shuttleworth het ook versoek dat die Reserwebank se beleid om nie direk met lede van die publiek te kommunikeer nie, maar eerder deur hul bankiere kontak te maak ongeldig verklaar moet word. Die hof het dié aansoek ook van die hand gewys.

Die regter het wel ʼn bevel toegestaan om artikel 9(3) van die Geldeenheid- en Wisselkoerswet en gedeeltes van die valutabeheerregulasies ongrondwetlik te verklaar. Artikel 9(3) bied aan die president die mag om enige gedeelte van die Geldeenheid- en Wisselkoerswet te wysig of op te skort, en die mag om enige ander wet van die parlement te wysig of op te skort.

Regter Legodi sê dit is buitengewone mag en bied aan die president die mag om enige wet van die parlement, ongeag of dit met ʼn ander gedeelte van die wetgewing oor valuta, bank, of geldeenheid te doen het, te wysig of op te skort. “Hierdie bepaling het die vermoë om die wonde van die verlede, toe wette met een handtekening verander is, weer oop te krap,” het Legodi gesê. “Dit kan nooit weer in ʼn grondwetlike en demokratiese Suid-Afrika gebeur nie.”

Shuttleworth, wat nou op die Isle of Man woon, blameer die huidige valutabeheerstelsel in Suid-Afrika daarvoor dat dit hom “gedwing” het om in 2001 te emigreer. Hy het bates van meer as R4.27 miljard in Suid-Afrika gehad toe hy emigreer het, maar het in 2008 en 2009 die bates uit die land geskuif en was telkens aan ʼn uitgangstarief onderworpe.

Die regering het ʼn jaar nadat Shuttleworth die res van sy bates uit die land geskuif het, die heffing laat vaar.

Regter Legodi het bepaal dat Shuttleworth nie bewys het dat daar teen sy grondwetlike reg tot “regmatige, redelike en regverdige administratiewe aksie” ingedruis is nie of dat die Reserwebank se sogenaamde “geslotedeur-beleid” onregverdig is nie. Hy sê die 10% uitgangstarief is om die negatiewe gevolge van die uitvloei van fondse op die eksterne balans van betalings, wat nodig is om Suid-Afrika se makro-ekonomiese gesondheid te handhaaf en finansiële groei en stabiliteit te bevorder, te beperk.

“Verbeel jou wat sal met hierdie land gebeur indien die rykste mans en vroue toegelaat is om hul rykdom telkens sonder boetes uit die land te neem wanneer die land ekonomies swaarkry of wanneer daar ʼn verandering in die regering of leiers van die regering kom. Dit sal ʼn verwoestende effek op die land in sy geheel hê.”

Hy het bepaal dat die besluit om die tarief te hef deur die minister van finansies geneem is en dat die Reserwebank geen diskresie het om enigiemand hiervan vry te spreek nie.

Shuttleworth het besluit om nie die minister se besluit uit te daag nie, en die hof het gevolglik nie ʼn finale besluit oor die kwessie gemaak nie.

Artikel 3(1) C, wat ʼn beperking plaas om ʼn betaling te maak aan ʼn persoon wat buite die Republiek woon, wat dus meeste hedendaagse internettransaksies onwettig maak, is ook geskrap. Die gedeelte wat ʼn persoon forseer om die aard van goedere wat iemand wil aankoop bekend te maak, is ook geskrap.

Die hof het die regering 12 maande gegee om die betrokke gedeeltes van die regulasies te wysig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Paul ·

Die regter se stelling oor die uitgangstarief maak glad nie sin nie, synde dat die tarief in elk geval intussen reeds afgeskaf is…
Die regter se stelling maak verder ook nie sin nie, want dis nie die uitvloei van bates wat ‘n “verwoestende effek” het nie – dis die verwoestende beleide wat tot die uitvloei lei wat die effek het.

Van die gedeeltes wat geskrap is, is wel ‘n groot oorwinning vir vryheid! Dankie, Mark Shuttleworth!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.