Sikloon Phailin: Minstens 7 dood, 1 miljoen ontruim

Sikloon Phailin in Indië

Sikloon Phailin in Indië

Indië het sy grootste ontruiming ooit afgehandel in afwagting van sikloon Phailin, het die nasionale rampbeheeragentskap Sondag aan AFP gesê. Bykans een miljoen mense is ontruim.

“Ons het vir ‘n supersikloon gewag, maar Phailin het nie in ‘n supersikloon verander nie,” het Tripti Parule, woordvoerder vir die nasionale rampbeheerowerheid (NDMA) gesê. “Tot dusver was die grootste ontruiming in Indië in 1990 in Andhra Pradesh toe 650 000 mense voor ‘n sikloon ontruim is. Hierdie keer was dit baie groter.”

‘n Reddingsbeampte van Orissa het gesê 860 000 mense is ontruim voordat die sikloon die kus Saterdagaand getref het. ‘n Verdere 100 000 mense is verder suid in Andhra Pradesh ontruim. Die nuwe getalle is bykans dubbel die hoeveelheid as dit wat Saterdag bekend gemaak is.

Intussen is bekend gemaak dat minstens sewe mense reeds omgekom het toe Phailin die ooskus getref het. Gopalpur is die ergste getref waar die oog van Phailin stormsterkte winde van tot 200km/h veroorsaak het.

Die weerburo in Indië het gesê Phailin se sterkte het noemenswaardig afgeneem nadat dit die binneland getref het, maar waarsku dat vloede steeds ‘n probleem kan wees.

Die NDMA en ander agentskappe is in Junie 2013 erg gekritiseer oor hul reaksie op massavloede in die Himalayas toe bykans 6 000 mense omgekom het.

Lees ook:
Sikloon Phailin: Bykans 500 000 reeds ontruim
Sikloon gaan Indië tref – honderde duisende vlug

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.