Singende protes toe uitskot-storters nie borg kry nie

Sewe mans wat glo menslike uitskot by Kaapstad Internasionale Lughawe gestort het, se borgaansoek is Maandag in die Bellville-landdroshof afgekeur.

“Dit is nie in die belang van geregtigheid om die mans vry te laat nie, aangesien hulle moontlik ʼn soortgelyke oortreding sal begaan,” het landdros Jannie Kotze gesê.

Die verdagtes is Loyiso Knohla, Andile Lili, Yanga Njingwana, Ben Dyani, Jaji Diniso, Bongile Zanazo en Thembela Mabanjwa.

Twee mans, Bantubakhe Mqobodiya en Wandisile Mkapa is borg van R500 elk toegestaan weens hul mediese toestand. Hulle is aangesê om nie sonder goedkeuring aan enige betoging deel te neem nie, en dat hulle hulself moet weerhou om enige lid van die publiek te dreig, intimideer of in te meng, en dat hulle nie skade mag aanrig aan enige openbare eiendom nie.

Die mans word almal onder die Wet op Burgerlike Lugvaart aangekla en kan tot 30 jaar tronkstraf opgelê word indien hulle skuldig bevind word.

Die mans het glo op 25 Junie 10 emmers vol uitskot by die vertreksaal van die lughawe gestort.

Nkohla, wat ʼn ANC-raadslid is, en Lili, wat ʼn voormalige raadslid is, is in hegtenis geneem nadat hulle reeds vir ʼn soortgelyke oortreding gewaarsku is. Hulle is vroeër vrygelaat op die voorwaarde dat hulle nie aan enige betogings sal deelneem nie. “Ondanks hierdie voorwaarde het hulle gereël dat die uitskot by die lughawe gestort moet word, wat niks met dienslewering te doen het nie,” het Kotze gesê. “Hulle het selfs die media in kennis gestel. Die enigste afleiding wat die hof kan maak is dat hulle nie bekommerd is om uitgeken te word nie. Dit wys dat hulle geen respek vir die hof of die regstelsel het nie.”

Die saak is tot 5 Augustus uitgestel sodat die ondersoek afgehandel kan word en dat die direkteur van openbare vervolging kan besluit watter hof die saak sal aanhoor.

Ondersteuners het die hofsaal glo volgepak en geskree toe die mans weer na die aanhoudingselle geneem is. Hulle het ook liedere in die hof gesing terwyl polisiebeamptes toegekyk het.

Die betogers het later in Landdrosweg voor die hofgebou gesing en gedans.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Rena Brown ·

Dis 100% perfek. Gee hulle al die “bollie” wat hul toekom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.