Siriese konflik kos dalk heldin die Nobelvredesprys

Malala Yousafzai

Malala Yousafzai

Die gebruik van chemiese wapens tydens die Siriese burgeroorlog, en die ontsettende lyding wat dit veroorsaak het, het moontlik die gunsteling om vanjaar die prys te wen, die 16-jarige Malala Yousafzai, die prys gekos.

Die prys is aan die OPWC toegeken, die internasionale organisasie wat as waghond oor die besit van chemiese wapens optree. Die organisasie is juis nou in Sirië om toesig te hou oor die aftakeling van chemiese wapens.

Die komitee wat die besluit moes neem oor wie die prys kry, het aangedui dat dit maklik was om die keuse te maak, maar bygevoeg dat die konflik in Sirië ‘n aksent geplaas het op die belangrikheid van die saak. Hulle het daarop gewys dat Alfred Nobel in sy testament self na chemiese wapens in sy pleidooi vir ontwapening gepleit het.

Die Nobel-vredesprys is al dikwels in die verlede aan organisasies, eerder as individue toegeken.

Malala, die Pakistanse meisie wat bekendheid verwerf het toe sy deur die Taliban deur die kop geskiet is omdat sy haar vir die reg van meisies om onderwys te ontvang, beywer het, is wêreldwyd as die oorweldigende gunsteling beskou.

Sy het pas die bedrewe omroeper van The Daily Show, Jon Stewart, sprakeloos gelaat toe sy tydens die onderhoud gesê het sy gun ook die kinders van die Taliban onderwys, omdat almal die reg daartoe behoort te hê. Sy glo alle meisies behoort onderrig te ontvang soos haar rolmodel, die gewese Pakistanse eerste minister, Benazier Bhutto.

Malala is steeds in die Taliban se visiere oor haar veldtog.

Malala het gister die Sacharovprys vir meningsvryheid by die Europese parlement ontvang, maar self baie beskeie gebly oor haar kanse om die Nobelvredesprys te wen. Sy het dit egter ook duidelik gemaak dat sy die Taliban geen geweld sal aandoen nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.