Sitplek aan Zuma-tafel buitensporig duur

Die ANC se beleidskonferensie skop Dinsdag af, en dit word Maandagaand met ʼn swierige partytjie voorafgegaan.

IOL berig ʼn sitplek aan president Zuma se tafel by die ANC se Progressive Business Forum-banket, wat in Johannesburg plaasvind, kos R500 000 per persoon. Die goedkoopste sitplek jaag jou sowat R2 500 uit die sak. Zuma gaan 600 besigheidsmense by dié banket onthaal wat om 18:30 begin. Alle tafels vir die geleentheid is reeds uitverkoop.

Die beleidskonferensie duur van Dinsdag tot Vrydag in Midrand by Gallagher Estate. Beleidstandpunte oor grondhervorming, die ekonomie en die toekoms van die onderskeie provinsies gaan tydens die konferensie bespreek word. Die afgevaardigdes gaan glo aandring op groter staatsinmenging in die ekonomie, veral in kritieke sektore soos die mynbedryf en banke.

RSG berig die ANC erken in sy strategiedokument dat daar ‘n krisis oor sy geloofwaardigheid bestaan en dat ‘n oplossing by die konferensie gevind moet word. Volgens die ANC se strategiese-raamwerk het hy nie doeltreffend opgetree teen faksievorming en swak dissipline nie. Die party het voorts gesê die agteruitgang moet gestaak word, voordat dit onomkeerbaar is.

Intussen het Zuma oor die naweek gesê Suid-Afrika het ‘n sogenaamde “tweede oorgang” nodig, anders gaan die land stagneer soos talle ander Afrika-lande ná onafhanklikheid. Hy het honderde ANC afgevaardigdes tydens ‘n party verkiesingskonferensie in Parys, Vrystaat, toegespreek, waar hy onder meer oor die beleidskonferensie gepraat het. Hy sê die “tweede oorgang” moet die nalatenskap van apartheid uitwis.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.