Sitplekgordels kon hul lewens gered het

Argieffoto

Die studente van Boston-universiteit wat verlede jaar in Nieu-Seeland verongeluk het, kon glo dalk oorleef het indien hulle veiligheidsgordels gedra het.

“Die drie studente wat in Mei 2012 in die ongeluk dood is en ‘n vierde wat breinskade opgedoen het, het nie veiligheidsgordels aangehad nie, en is uit die stasiewa geslinger,” het konstabel Tina Mitchell-Ellis, woordvoerder van die polisie in Nieu-Seeland, aan die lykskouer-hof gesê. Sy sê die vier ander persone, wat veiligheidsgordels gedra het, het slegs geringe beserings opgedoen.

Die studente was in Nieu-Seeland op ‘n uitruilprojek en was oppad na ‘n staptog. Stephen Houseman, die bestuurder van die stasiewa, het verlede jaar skuldig gepleit op aanklag van roekelose bestuur en sy rybewys is vir ses maande lank opgeskort. Mitchell-Ellis het gesê Houseman het die slagoffers glo herinner om hul veiligheidsgordels te dra. Sy sê sy aandag is egter afgetrek en hy het aan die verkeerde kant van die pad gery voordat hy oorreageer en die stasiewa vier keer laat rol het. “Terwyl ons gerol het, het almal geskree, maar dit was eerder soos ‘n geskreeu op ‘n tuimeltrein,” het Houseman in ‘n verklaring aan die polisie gesê. “Ek het aanhou skree, ‘ek is jammer, ek is jammer, ek is jammer.’ Ek het nie geweet wat anders ek moet sê nie.”

Die polisie het bevestig dat alkohol of dwelmmiddels nie by die ongeluk betrokke was nie en dat die puin aangedui het dat Houseman moontlik nie te vinnig op die grondpad gery het nie. Die polisie het gesê dit was sy eerste keer dat hy op Nieu-Seelandse paaie gery het en die eerste keer dat hy ‘n stasiewa bestuur het.

Die slagoffers is Austin Brashears (21) van Kalifornië in Amerika, Roch Jauberty (21) van Frankryk, en Daniela Lekhno (20) van New Jersey in Amerika. Meg Theriault van Massachusetts het kopbeserings opgedoen.
-SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.