Situasie by Beitbrug-grenspos ʼn ‘humanitêre ramp’

(Foto: Verskaf)

Chaos heers by die Beitbrug-grenspos met vragmotors en voertuie wat in toue van tot 20 km lank wag om deur die grenspos tussen Suid-Afrika en Zimbabwe te gaan.

Die Padvragvereniging (RFA) het ʼn beroep op pres. Cyril Ramaphosa gedoen om dringend aandag te gee aan die krisis.

“Met geen fasiliteite of geriewe vir die duisende mense wat wag nie het die vertragings reeds in ʼn humanitêre ramp ontaard,” sê Gavin Kelly, uitvoerende hoof van die RFA.

Vragmotorbestuurders wag glo al so lank as nege dae om die grens oor te steek.

Die RFA sê hy is bewus van minstens vier vragmotorbestuurders wat in hul vragmotors gesterf het weens die haglike omstandighede en nóg sewe onbevestigde gevalle.

“Hoewel die opeenhoping by Beitbrug al geruime tyd lank ʼn uitdaging is, het die Covid-19-kontroles en die aandklokreël dit vererger. Dis die ergste opeenhoping in die geskiedenis van dié grenspos. Toue strek van die grenspos na Musina aan Suid-Afrika se kant en aan die Zimbabwe-kant is daar ook erge vertragings.

“Met die regte beplanning sou hierdie nagmerrie vermy kon word.”

Volgens Kelly is al die vragmotorparkerings vol en staan vragmotors in elke straat in die omliggende dorpe. Bestuurders kry nie genoeg slaap nie en neem soms drastiese stappe om uit die verkeersknoop te kom.

Bestuurders wat reeds dae lank in die toue staan betaal omkoopgeld aan beamptes om voor ander voertuie in te skuif. Afhangend van die situasie by die ingang en die bedrag wat betaal word, word sommige bestuurders van die ingang af weggewys en moet hulle weer aan die agterkant van die tou inval. Sommige bestuurders betaal soveel as duisende rande net om die tou vry te spring.

“Hoe meer jy betaal, hoe beter kans staan jy om voor in die ry te beland. Diegene wat binne die wet optree en in die toue staan en hul beurt afwag kan moontlik weke lank wag.”

Misdadigers buit intussen die situasie uit en vragmotors en sleepwaens word geplunder.

Beitbrug-grenspos Foto: newzimbabwe.com

“Hierdie situasie kan nie voortduur nie. Die vertragings het tot dusver meer as R700 miljoen gekos en hierdie syfer gaan net aanhou toeneem,” het Kelly gesê.

Adv. Bongani Bongo, komitee-voorsitter van binnelandse sake, het intussen gevra dat die betrokke departemente noodstrategieë ontwikkel en implementeer om die opeenhoping te verlig.

“Hoewel ons die noodsaak van streng Covid-19-regulasies en -prosedures verstaan, is ons ook bewus van die strategiese posisionering van die Beitbrug-grenspos vir handel in Afrika. In hierdie konteks moet strategieë ingestel word om hierdie situasie te verbeter en dié tipe voorvalle in die toekoms te voorkom.”

Aaron Motsoaledi, minister van binnelandse sake, sê egter die departement het glo ʼn reëling met vragmotorbestuurders dat hul eers na toegekende parkeerareas toe gaan om hul dokumentasie af te handel voordat hul die grens oorsteek, berig eNCA.

“Vragmotorbestuurders is egter geneig om dié reël te laat vaar as iets hulle onstel. Hulle sit dan op die pad en doen hulle papierwerk wat dan hierdie tipe vertragings veroorsaak,” sê hy.

Kelly is egter van mening dat die skuld nie alleenlik op die vragmotorbestuurders se skouers gepak kan word nie.

“Daar word aantygings gemaak dat bestuurders nie die regte dokumentasie het nie, maar hulle moet eers vooraf klaring van die inkomstediens kry voordat hul die grenspos bereik, anders word hulle in aparte toue gehou.”

Volgens EWN het Motsoaledi reeds gereël dat soldate en bykomende personeel by die Beitbrug-grenspos ontplooi word.

“Ons het meer personeel, die polisie en selfs die weermag gestuur om die situasie te beredder. Hopelik kan hulle die bestuurders sover kry om in die toegekende parkeerareas te wag.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.