Situasie in Diepsloot “gespanne”

Uitlanders ontruim hul winkels in Diepsloot. Foto: AlJazeeraEnglish TV

Nege mense asook ʼn Somaliese winkeleienaar van Diepsloot verskyn Dinsdag in die Pretoriase landdroshof op verskeie aanklagte wat strek van publieke geweld tot moord. Die nege verdagtes is Sondagaand in hegtenis geneem vir publieke geweld en die besit van gesteelde goedere. Dit volg nadat die Somaliese winkeleienaar vroeër die dag twee Zimbabwiërs by sy winkel tydens ʼn beweerde rooftog doodgeskiet het.

Maroela Media het Maandag berig die twee Zimbabwiërs het omstreeks 18:00 die winkel betree. “Die Somaliër beweer die twee mans wou hom beroof. Hy het ʼn vuurwapen uitgehaal en hulle noodlottig gewond,” het lt.kol. Lungelo Dlamini, ʼn polisiewoordvoerder van Gauteng, gesê. Die polisie is na die toneel ontbied en het die Somaliër in hegtenis geneem op aanklagte van moord.

Plaaslike inwoners van Diepsloot het ná die voorval die Somaliër se winkel met klippe bestook en dit geplunder. Die polisie het egter die skare verjaag. Die groep inwoners het daarna op ʼn verwoestingstog gegaan en ander winkels, wat aan uitlanders behoort, geplunder. Nege verdagtes is in verband daarmee in hegtenis geneem.

Dlamini sê talle buitelanders asook Suid-Afrikaners woon in die semi-informele nedersetting waar die voorvalle plaasgevind het. Intussen het talle uitlanders sedert Sondag die gebied begin verlaat. Maandagaand was die situasie daar gespanne nadat ʼn uitlander se winkel glo aan die brand gesteek is en wydverspreide plundery plaasgevind het. Huise is ook ontruim.

Die polisie sê die situasie in die gebied is nog gespanne en hulle is op hoë gereedheid geplaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.