Siya weer op operasietafel

Siya Kolisi in aksie vir Racing 92 in Frankryk. (Foto: X/Racing 92)

Springbok-kaptein Siya Kolisi sal weer vir ʼn ruk op die krukkelys wees nadat hy ʼn operasie aan sy regterhand ondergaan het.

Die losvoorspeler het die besering in Racing 92 se Top 14-wedstryd teen Bordeaux opgedoen. Hy kon egter steeds vir die volle 80 minute speel.

Die Wêreldbeker-wenkaptein het Dinsdag op sosiale media bevestig dat die operasie suksesvol was. Hy behoort ook betyds gereed te wees vir die Springbokke se internasionale pligte wat weer in Junie met ʼn wedstryd teen Wallis op Twickenham hervat word.

“Die operasie het goed verloop! Ek sal gou weer op my pos wees,” het Kolisi op Instagram gedeel.

Die 32-jarige losvoorspeler het verlede November sy eerste wedstryd vir die Parys-klub gespeel nadat hy saam met sy Springbokspan die Webb Ellis-trofee vir die tweede keer op ʼn streep omhoog gehou het.

Kolisi was juis destyds ook in ʼn wedloop teen tyd gewikkel om betyds gereed te wees vir die internasionale rugbyskouspel in Frankryk.

Hy het ʼn paar maande vóór die Springbokke se openingswedstryd teen Skotland in Marseille sy knie in ʼn wedstryd vir die Sharks teen Munster seergemaak en sy Wêreldbeker-deelname was beslis in gedrang.

ʼn Operasie en die daaropvolgende rehabilitasiewerk het egter flink verloop en hy was ʼn lid van die Bok-span wat die All Blacks éérs op Twickenham en tóé op die Stade de France geklop het.

Kolisi het intussen ook aangedui dat hy nog bitter graag die Bok-trui sal wil dra.

“Ek is nog beskikbaar om gekies te word. Niks gaan verander nie. Ek wil speel,” het die nasionale rugbykaptein gesê wat met ’n wenpersentasie van 67% spog.

“Om die Springboktrui aan te trek is vir my die heel belangrikste; ongeag of ek kaptein is of nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Anel ·

Los hom waar hy is. Daar is ander wat sy plek kan vat. Almal is vervangbaar!!!

africangrey ·

Dis lekker en goed om te hoor hy gaan steeds vir die Bok trui!!

George ·

Sterkte Siya, los hande ons beste kaptein wat ooit opgelewer is.

piet ·

Sterke. Ons beste rugbykaptein ooit. Hall of Fame gehalte. As hy vir Engeland gespeel het, was hy nou al tot ridder van die hoogste orde geslaan.

JohanR ·

Dis nou een ding wat SA nie kort van is nie – losvoorspelers. Jy kan sommer die beste drie vervang met nog weer drie van die bestes.

Republikein in die Wes Kaap ·

pieta, kom ons kyk wie moet eersridders word: Kitshoff, Ox, Marx, Malherbe, Koch, Etzebeth, Mostert, Snyman, PS du Toit, Vermeulen, Kwagga, Wiese, Faf, Reinach, Pollard, Libbok, De Allende, Kriel, Am, Kolbe, Willemse, Le Roux, Erasmus, Nienaber. Eers dan kom jou kêppie. Sonder daai spelers is hy niks. O wag, Sam Cane en Wayne Barnes moet eers ere-ridders word. Maar die beste kaptein ooit. Moenie dat ek in my rooibos stik nie.

Pieter ·

@piet, dan moet hy maar vir die ingelse gaan speel. Ons het ander beter spelers

africangrey ·

Maar ek stem saam met Piet,
2 Wereld bekers sit darem nie in enige iemand se broek nie ?
Dit gaan virseker ook oor leiderschap?
Of sit ek dan nou die pot heeltemal mis?

Republikein in die Wes Kaap ·

Nie vogel, ek het toe ‘n Luke Watson beweging gedoen. Baie meer gepas.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.