Sjimpansee-aanval: Student sterk aan

Die Amerikaanse nagraadse student wat Donderdag by Chimp Eden in Nelspruit deur twee sjimpansees aangeval is, is in ʼn stabiele toestand. Andrew Oberle (26) veg sedert die aanval om sy lewe in die Nelspruit MediClinic se intensiewe sorgeenheid. Na wat verwag word behoort sy ouers Maandag in die land aan te kom om hom by te staan.

Oberle se een oor, ʼn paar van sy vingers en ʼn paar tone is deur die sjimpansees afgebyt. Sy enkel is gedeeltelik geamputeer en hy het bytplekke aan sy kop, keel, bors, bene en liesarea opgedoen.

Eugene Cousons, eienaar van Chimp Eden, het aan die Laeveld Nuus gesê die man het glo gesien hoe een van die sjimpansees die heining van sy kamp probeer beskadig. Hy het klaarblyklik toe nader gestap, waarna twee sjimpansees dit reggekry het om hom te gryp en deur die heining te trek. Hy is na bewering sowat ʼn kilometer die kamp ingetrek terwyl hy aangeval is.

Intussen berig Beeld die twee sjimpansees wat vir die aanval verantwoordelik was, gaan nie van kant gemaak word nie. Volgens Cussons het die Mpumalanga-toerisme- en parkeraad bevind die sjimpansees, Amadeus en Nikki, het reageer soos enige wilde dier sou wat bedreig word. Die sjimpansee wat tydens die aanval geskiet is, word by die Johannesburg-dieretuin behandel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.