Skaak: 16-jarige van PE sal Kasparov op Tafelberg aandurf

Garry Kasparov, die wêreldkampioen in skaak sal hierdie week die 16-jarige skaakkampioen van Port Elizabeth, Marcel Roberts, in ʼn vriendskaplike toernooi op Tafelberg aandurf.

Volgens Roberts sal hy probeer om allerhande geheime by dié skaakmeester te bekom. Kasparov is tans in die land om sy samewerking met Moves for Life te bemark. Moves for Life, onder die vaandel van Kasparov Chess Foundation Africa (KCF-A), is ʼn plaaslike inisiatief wat skaak gebruik om plattelandse skoolkinders wetenskap en wiskunde te leer. “Dit is ʼn groot oomblik vir my. Kasparov was reeds die wêreldkampioen toe hy maar 22 jaar oud was. Ek en my afrigter bestudeer al jare lank sy spel. Ek het hom eenkeer ontmoet, maar dit was net by ʼn foto-geleentheid,” het Roberts gesê. Roberts wil boonop hoor wat Kasparov vir ontbyt eet, hoeveel uur per week hy tydens die hoogtepunt van sy loopbaan geoefen het en of hy steeds soveel oefen nou dat hy afgetree is. “Ek wil myself met hom vergelyk. Ek wil weet wat hy ingesit het om die beste te wees, want ek wil graag in sy voetspore volg.” Roberts sal Kasparov op 22 Maart op Tafelberg uitdaag.

Kasparov gaan Donderdag ook in die Wes-Kaap gelyktydig teen 25 skaakspelers speel (simultaan-wedstryd). Sy opponente sluit 20 kinders in die Wes-Kaap sowel as opponente bekend in die skaakgemeenskap insluitend adv. Lyndon Bouah, direkteur van sport in die Wes-Kaap wat ook ʼn internasionale skaakmeester is.

Die hoofborg van die geleenthede is Old Mutual iWYZE valuables insurance.

Gary Kasparov Foto: Reint Dykema

Marcel Roberts Foto: Reint Dykema

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.