Skade by St Francisbaai nog nie bepaal nie

Foto: Twitter

Dit is nog te vroeg om die omvang van die skade in St Francisbaai in die Oos-Kaap te bepaal, het ‘n versekeringsonderskrywer Maandag gesê.

“Dit sal ‘n paar dae duur voordat ons presies weet hoeveel skade die brand aangerig het,” het Natasja Blok, besturende direkteur van Thatch Risk Acceptances in ‘n verklaring gesê. Volgens Blok kan die skade die hele versekeringsbedryf ‘n groot knou toedien. Grasdakhuise in die gebied word tussen R1 miljoen en R16 miljoen waardeer. “’n Huis kan binne 10 minute afbrand, so dit beloop dus meestal ‘n algehele verlies.”

“Indien daar ‘n brand in jou omgewing uitbreek, is die beste raad om die dak met water nat te maak. Indien die grasdak nat is, sal dit die risiko van ‘n brand verlaag,” het sy gesê. “Onder uiterste omstandighede met sterk winde sal dit die doeltreffendheid verminder.”

‘n Brand het Sondag omstreeks 17:30 by die Royal Wharf-ontwikkeling uitgebreek. Die brand is deur ‘n sterk westelike wind aangehelp. Tien brandweerwaens is ontbied en bykomende hulp is van Nelson Mandela Bay en Koukamma-munisipaliteite ontbied. Die brand was om middernag halfpad geblus en het nie ‘n onmiddellike gevaar vir ander huise in die omgewing ingehou nie.

Brandbestryders is omstreeks 04:00 huis toe gestuur nadat die vuur geblus is.

Aanvanklike berigte het beweer dat meer as 100 huise vernietig is, maar Laura-Leigh Randall, woordvoerder vir die Kouga-munisipaliteit, het gesê sowat 75 geboue, insluitend 68 huise, ses woonstelle en kantoorspasie is beskadig of verwoes. “Skoonmaakoperasies duur voort. Die oorsaak van die brand is steeds onbekend, maar die polisie se forensiese eenheid sal ondersoek instel,” het Randall gesê.

Mlibo Qoboshiyane, LUR vir plaaslike regering in die Oos-Kaap, sal die noodbeheerkamer in Humansdorp besoek voordat hulle na St Francisbaai aan beweeg. ‘n Skadebepaling is Maandag gedoen. “Ons is besig om die verslag af te handel,” het Randall gesê.

Alle inwoners in die gebied is ontruim.

Klik hier vir foto’s en ‘n video van die brand.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.