Skaliegas: Agri SA ook ontevrede

Agri SA is ook ontvrede met die kabinetsbesluit om die moratorium op hidroliese breking, bekend as ‘fracking,’ op te hef om vir skaliegas in die Karoo te prospekteer.

Agri SA het Dinsdag in ʼn verklaring gesê hy neem kennis van dié besluit. Dit volg op ‘n aanbeveling van ʼn tegniese taakgroep wat verlede jaar deur die minister van minerale hulpbronne aangestel is om haar van advies in die verband te voorsien.  Vir groter deursigtigheid en integriteit van die proses is Agri SA van mening dat dié verslag vooraf vir insae en kommentaar beskikbaar moes wees alvorens die kabinet ‘n besluit daaromtrent geneem het.

Johannes Möller, president van Agri SA, sê dat die organisasie nie insae in die werking of bevindinge van die taakgroep gehad het nie.  Die organisasie het verlede jaar ‘n versoek aan die minister gerig om ‘n moratorium op skaliegas-ontwikkeling te plaas.  Redes wat aangevoer is hou verband met kommer oor die moontlikheid van grondwaterbesoedeling as moontlike uitvloeisel van dié ontginningsproses.  Agri SA het ook versoek dat die resultate van internasionale navorsing hieromtrent afgewag en in ag geneem moet word.  Volgens Agri SA se inligting is hierdie navorsing nog nie afgehandel  nie.

Volgens Möller verstaan Agri SA die land se behoeftes vir die ontwikkeling van alternatiewe energie-hulpbronne, maar met die voorbehoud dat die moontlike implikasies wat skaliegas-ontginning vir die landbou en die omgewing inhou, deeglik verreken moet word.

Agri SA sal aan die openbare konsultasieprosesse deelneem en hom beywer vir die toepassing van die beste internasionale praktyk, ook ten opsigte van omgewingswetgewing.  “Agri SA sal hom laat lei deur sy lede ten opsigte van moontlike ooreenkomste met Shell en ander ontwikkelaars wat by die skaliegasproses betrokke is,” het Möller gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

frank ·

Shell se omkoopgeld aan minister is uiteidelik hoog genoeg, nou kan ons voorgaan met fracking. Was dit nie die hele doel met die ‘nuwe Suid afrika’ nie? Minerale vir lekker goedkoop, wereld/ geldmagte het hul doel bereik…

Kopkrap ·

AgriSA het nou weereens ‘n diplomatiese manier gevind om so onduidelik moontlik te antwoord sodat hy beide nie deel neem nie en ook nie dit teenstaan nie.

10/10 vir AgriSA se psyops. Maar dit gaan nie verhoed dat die Karoo vernietig gaan word nie.

Ons land het net sterk leiers as daar ‘n trog vol vervreet is. niemand blyk die moed van oortuiging te he nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.