‘Skarlakenkinders’ lig sluier oor mensehandel

Argieffoto

Wêrelddag teen mensehandel vind jaarliks op 30 Julie plaas. Anzil Kulsen en Nadine Blom, skrywers van Skarlakenkinders, het met Maroela Media gesels oor hul emosionele reis tydens die navorsing- en skryfproses, die invloed wat mensehandel op slagoffers het en waar om vir hulp aan te klop wanneer iemand vermis word.

Tydens ʼn Zoom-onderhoud het Blom benadruk dat booswigte ongesiens deurdring tot mense.

“Wanneer iets te goed lyk om waar te wees, is dit dalk juis die geval,” meen sy. Blom verwys na sindikate wat weerlose mense, nie slegs vroue of jong meisies nie, onder meer met oorsese werkgeleenthede en met uitsonderlike voordele lok.

Sy verduidelik ook dat persone wat alleen reis hulself blootstel om deur dié netwerke gevang te word.

Kulsen het Blom in 2016 genader om saam aan ʼn projek in Upington te werk.

“Mettertyd het die projek ontwikkel tot ʼn boek waarmee lesers kan identifiseer, sonder om net ʼn klomp feite op die tafel te gooi,” vertel Kulsen.

Die skrywers deel ʼn passie om ʼn verskil in mense se lewens te maak en daarom lê Skarlakenkinders hulle na aan die hart.

Hier volg ʼn uittreksel uit Skarlakenkinders deur Anzil Kulsen en Nadine Blom.

Mensehandel in ’n neutedop

Mensehandel behels die werwing, vervoer, oordrag, huisvesting of ontvangs van mense op onbehoorlike wyse (soos deur geweld, ontvoering, bedrog of oorreding) vir ’n onbehoorlike doel, waaronder gedwonge arbeid of seksuele eksploitasie deur hoogs georganiseerde internasionale misdaadsindikate.

Ontwikkelende lande met ’n hoë werkloosheidsyfer, armoede en ’n gebrek aan ekonomiese geleenthede is ’n gunstige plek vir internasionale mensehandelnetwerke. Weens toenemende globalisering is Suid-Afrika blootgestel aan internasionaal georganiseerde misdaad. Korrupsie, deurdringbare landsgrense, die vraag na seks, pornografie en liggaamsdele vir muti dien onder meer as dryfvere vir mensehandel.

Individue word gebruik vir verskeie doeleindes wat insluit gedwonge prostitusie, dansklubprostitusie, pornografie, kinderpornografie, dwelmhandel, kinderbruide, lyfbediendes, gedwonge handearbeid in die landbousektor, mynbedryf en fabrieke of “sweatshops”, kinderarbeid, internetbruide, orgaanhandel, en so meer.

Die internet en globalisering vergemaklik die werwing van mensehandelslagoffers. Mensehandelnetwerke maak onder meer gebruik van sosiale media soos Facebook en Instagram om potensiële slagoffers te werf met beloftes van werkgeleenthede, romantiese verhoudings, modelkontrakte, hoofrolle in internasionale rolprente, beter werksomstandighede, hoër inkomste en prominente gesagsposisies in terroristeorganisasies.

Sodra die slagoffers gewerf is, word hulle tydens die inbreekproses dikwels blootgestel aan uiterste wrede en onmenslike inbreekmetodes ten einde vrees by hulle in te boesem. Dié inbreekmetodes sluit marteling, verkragting, groepsverkragting, weerhouding van alle vloeistowwe en voedsel asook die toediening van dwelms in.

Slagoffers wat gered is, word dikwels gekonfronteer met die verwerking van trauma wat hulle opgedoen het gedurende hulle tyd in slawerny. Die terugkry van menswaardigheid is die eerste tree na genesing en hier speel nieregeringsorganisasies soos die National Freedom Network in samewerking met verskeie individue en ander nieregeringsorganisasies ’n groot rol.

Deurlopende bewusmakingsveldtogte via die media, bewusmaking in skole deur toepaslike kurrikulumaanpassings om leerders en studente in te lig oor die slaggate en gevare van sosiale media, en die ontwikkeling van toepaslike wetgewing en doeltreffende vervolging is enkele faktore wat noodsaaklik is om ’n groter nasionale bewustheid rakende mensehandel te skep.

Hoe gemaak as iemand vermis is?

Stap 1

Meld onmiddellik die persoon as vermis aan by jou naaste SAPD-kantoor. (Daar hoef geen tyd verby te gaan tussen wanneer iemand wegraak en hy of sy as vermis aangemeld moet word nie.) Verskaf die volgende inligting aan die SAPD‑lid:

  • Meld die plek waar jy die persoon laaste gesien het.
  • Beskryf die klere wat hy of sy gedra het.
  • Meld enige ander inligting wat kan help met die ondersoek.
  • Maak seker dat jy die ondersoekbeampte se naam en telefoonnommer neerskryf sodat jy bykomende inligting waarvan jy dalk vergeet het met die ondersoekbeampte kan deel.
  • Stel dadelik die beampte in kennis indien die persoon moontlik vrywillig sou terugkeer huis toe.

Stap 2

Sodra jy die saaknommer van die SAPD ontvang het, meld die geval aan by die South African National Human Trafficking Resource Line by 0800 222 777. (Jy kan kies om anoniem te bly of om jou identiteit bekend te maak.)

As jy vermoed dat iemand vermis is, maar onseker is of die persoon wel ’n slagoffer van mensehandel is, maak kontak met The Pink Ladies, 072 214 7439 of 083 378 4882, en Missing Children SA, 072 647 7464, in geval van kinders.

Vir meer inligting besoek www.nationalfreedomnetwork.co.za.

Die uittreksel is goedgunstig deur Lux Verbi, ʼn druknaam van NB-Uitgewers, verskaf.

Oor die boek

Ses vroue van verskillende agtergronde beland saam op ’n plaas in die Sederberge. Hoewel elkeen haar eie hartseer het om te verwerk moet hulle almal saamwerk om ’n groter krisis op te los.

’n Aksiebelaaide roman met ’n Christelike agtergrond oor ’n tema wat al hoe meer relevant word vandag – mensehandel.

Oor die skrywers

Anzil Kulsen is op Upington gebore en het in Keimoes grootgeword. Sy het ’n honneursgraad verwerf en by die ATKV aangesluit as projekbestuurder. Kulsen het afgeleë gemeenskappe besoek om met mense oor boeke te gesels, kreatiewe skryfkursusse aangebied en spel- en narratiewe terapie gedoen. Sy is getroud met Heine, hulle het twee kinders en woon op Upington.

Nadine Blom is ‘n sanger, toegelate prokureur, ʼn Afrikaans-ambassadeur van die Dagbreek Trust en ma van ʼn hoërskoolseun, Adriaan, saam met wie sy Blits geskryf het. Haar lewensfilosofie is: “Moenie uitstel nie, doen dit nou!” Sy woon in Melkbosstrand.

  • Maroela Media het tydens ʼn Zoom-onderhoud met Anzil Kulsen en Nadine Blom, skrywers van Skarlakenkinders, gesels oor hul emosionele reis tydens die navorsings- en skryfproses, die invloed wat mensehandel op slagoffers het en waar om vir hulp aan te klop wanneer iemand vermis word. Luister na die volledige onderhoud bo-aan hierdie berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Nici ·

As die gemiddelde mens daarbuite net kan besef hoe pornografie mensehandel in prostitusie vergroot en die wreedheid daarvan, sal mense dit bejeen met die erns van die slawehandel en euwel wat dit is.

Petrus ·

Het my ‘n rukkie geneem om te verstaan dat wanneer sy “weerbaar” sê sy eintlik bedoel “weerloos”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.