“Skep taakspan om Bloem-verkragters vas te trek” – AfriForum

Argieffoto

Die burgerregte-organisasie AfriForum het die polisie Dinsdag versoek om ʼn toegewyde taakspan aan te wys om die verkragters aan te keer wat vroulike studente in Bloemfontein aanval.

Dít nadat nóg twee jong Bloemfonteinse vroue verkrag is. Volgens die polisiewoordvoerder, lt.kol. Annelie Wrensch, het die twee onlangse insidente op Vrydag en Sondag onderskeidelik plaasgevind. Sy het bevestig dat die polisie ʼn moontlike skakel tussen al die insidente en die moontlikheid dat daar ‘n bende in Bloemfontein aan die werk is, ondersoek.

In die lig van die onlangse gevalle van geweld teen vroue, glo AfriForum dat die polisie hulle pogings moet verskerp om hierdie sake te ondersoek en die misdadigers aan te keer.

Reg Crewe, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum, sê die situasie regverdig die stig van ʼn taakspan. “So lank as wat hierdie bendelede op vrye voet is, is niemand veilig nie,” het Crewe gesê.

AfriForum is ook bekommerd dat die slagoffers nie behoorlike ondersteuning van die polisie gekry het nie. “In een geval is daar slegs ʼn kapingsdossier geregistreer en nie ʼn verkragtingsaak nie. Daar is duidelik iemand by die polisiestasie wat onbevoeg is as die toepaslike klagtes nie gelê word nie, die slagoffers nie ondersteun word nie en daar nie behoorlik na bewyse gesoek word nie,” het Crewe gesê.

Volgens Crewe is die eerste slagoffer verder getraumatiseer omdat sy nie behoorlike sorg by die Tshepong Thuthuzela-sentrum gekry het nie. “Dit is onaanvaarbaar dat slagoffers nou nog nie die beste ondersteuning van die polisie met betrekking tot ondersteuning, forensiese bewysversameling en mediese sorg kry nie. Ek raai die slagoffers aan om die Onafhanklike Polisie-ondersoekende Direktoraat (OPOD) te nader en klagtes van nalatigheid teen die polisie te lê,” het Crewe gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.