Skeptisisme oor Bloemfontein se water

Argieffoto

Argieffoto

Die watertoevoer na dele van Bloemfontein wat ses dae lank sonder water was, is teen Woensdagmiddag herstel. Vroeër die dag moes raadslede tydens ‘n raadsvergdering in die Glaspaleis sweet omdat daar te min water in die gebou was om die lugverkoeling aan te dryf.

‘n Woordvoerder van premier Ace Magashule is in die media aangehaal dat die waterprobleme moontlik sabotasie was, omdat sulke probleme elke keer voor verkiesings opduik. Dit is deur al die opposisiepartye as kaf afgemaak.

Die burgemeester van Mangaung, Thabo Manyoni, het ‘n beroep op inwoners gedoen om nie politiekery van die saak te maak nie.

Water kan weer na die noordelike voorstede gepomp word nadat sluise van die Mockesdam skoongemaak is, en water weer na die Maselspoortdam kom vloei waar die watersuiweringsaanleg geleë is.

Intussen het die provisie se gesondheidsowerhede ontken dat die vlaag van diarree in die stad, wat tot talle hospitalisasies gelei het, met die waterkrisis verband hou.

Dit is die tweede keer binne sowat ‘n maand dat hoërliggende gebiede in die noordelike voorstede dae lank sonder water was.

Geen waterbeperkings is aangekondig nie, en ‘n beroep word op inwoners gedoen om water “wys” te gebruik.

Waterbeperkings is algemeen verwag omdat die hoofopvangdam van ‘n groot deel van die stad, die Rustfonteindam, weens die droogte heeltemal leeg is. Die kleiner Mockesdam is op sy laagste vlak nog. Hoewel dit Dinsdag in die streek begin reën het, was dit sagte reën en is oor die algemeen slegs sowat ses millimeter gemeet wat te min is om ‘n invloed op die damme se stand te hê. Hoewel reënkanse vir die volgende week goed lyk, word ook oor die algemeen nie groot neerslae voorspel nie. Die beste neerslae word vir Saterdagmiddag (sowat 13 mm), Sondagoggend (18 mm) en Dinsdag voorspel, waarna die reënvooruitsigte weer yl lyk.

Die suidelike en westelike woongebiede kry hul water van die Caledonrivier. Dié gebiede was die afgelope paar maande ook gereeld dae lank sonder water weens ‘n gebreekte pyp, wat weer gebreek het na dit herstel is. Dié stelsel lewer ook water aan ThabaNchu en Botshabelo, asook ‘n aantal klein dorpies in die omgewing.

Hoewel hierdie waterbron ook onder druk kom in droogtetye kan water wat van die Katsedam in Lesotho na Bethlehem vloei om Gauteng se water aan te vul, ook na die Caledon afgekeer word. Dit is dan egter duur water.

Manyoni sê hy het reeds ‘n versoek aan die departement van waterwese gerig om ‘n pypleiding van die Gariepdam af na Bloemfontein aan te lê om die stad se waterprobleme “blywend” op te los. Ook hierdie water sal baie duur wees.

Kenners beskuldig die stadsvaders dat oor die naderende krisis “geslaap” is. Instandhoudingswerk is afgeskeep, en slegs ‘n klein deel van die fondse wat die provinsiale regering vir opgradering beskikbaar gestel het, is gebruik. Inwoners is warm onder die kraag weens die swak kommunikasie oor die probleme, wat tot baie onnodige skade en ongerief lei. Dié probleem word al jare lank ervaar.

Bronne: Volksblad, OFM, Courant, Mangaung Munisipaliteit

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.