Skeuring in die Boeremag

Die broers Wilhelm (voor) en Johan Pretorius Foto: Facebook

Die verenigde front wat die 20 Boeremag-verdagtes eens voorgehou het, het nou tot só mate geskeur dat sommige van die lede nie meer met mekaar praat nie.

Voor die uitspraak in die uitgerekte hofsaak verlede week begin het, het een van die beskuldigdes, dr. Lets Pretorius openlik oor ‘n skeuring tussen sy gesin en een van sy seuns, Kobus, gepraat. Pretorius en sy seuns, Johan (ook ‘n gekwalifiseerde mediese dokter), Kobus en Wilhelm, is onder die 20 Boeremag-lede wat onder andere van hoogverraad aangekla word.

Pretorius het die skeuring aan die invloed van Kobus se sielkundige, Sonja Jordaan, toegeskryf. Hy het in ‘n radio-onderhoud gesê hy hoop dat hulle die band kan herstel. Hy het die gesin as patrioties en God-vresend, maar nie fanaties nie, beskryf. Tydens sy onlangse verskyning in die hof was dit duidelik dat Kobus sy broers, pa en ma Minnie ignoreer het. Hy het slegs met Jordaan gesels. Kobus het ook openlik in die hof na Jordaan en haar man as “ma en pa” verwys.

Jordaan, wat haarself as Kobus se “geestelike raadgewer” beskryf, het die afgelope week ‘n verklaring aan die media oorhandig waarin Kobus homself van sy familie distansieer. Luidens die verklaring was die rede die “onwaarhede” wat sy pa oor die skeuring tydens die radio-onderhoud bekend gemaak het. “Ek het in dr. Lets en mev. Minnie Pretorius se huis grootgeword. Ek is ekstremisties fanaties polities en godsdienstig grootgemaak. Hulle het my hanteer as ‘n vertoonstuk van hul “opleiding”. Gedurende die tyd wat ek in die tronk deurgebring het, het ek begin om myself van hul godsdienstige en politieke oortuigings en beginsels vry te maak. Hulle het ten alle koste probeer om my in hul geloof vasgevang te hou, en dit het tot spanning gelei. Ek het probeer om familiebande bymekaar te hou, ten spyte van ons verskille. Hulle het my en my nuwe oortuiging nie meer aanvaar nie. Ek het nou finaal alle bande met hulle gebreek.”

Nege van die beskuldigdes, broers Mike en André du Toit, Rooikoos du Plessis, Adriaan van Wyk, Dion van den Heever, Magiel Burger, Jacques Olivier, Pieter van Deventer en Fritz Naudé, is reeds aan hoogverraad skuldig bevind.
Die aanklagte spruit uit ‘n verregse komplot om ‘n staatsgreep uit te voer. Die plan was om alle swart en Indiese mense uit die land te jaag ná chaos geskep is, en dan die ANC-regering met ‘n verregse militêre Afrikaner-beheerde regering te vervang.

SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Johan du Plessis ·

Hoekom word hierdie mense Boeremag genoem? Weet hulle iets van boerdery? Dit is net nog ‘n manier om ‘n aanstootlike karakter aan boere te koppel, terwyl die meeste boere baie werk skep en meestal besig is om kos op ons almal se tafels te sit!

Robert Friedman ·

@ Johan du Plessis:
daar is Boere en en daar is ook boere…
Die Anglo-Boereoorlog was nie ‘n oorlog tussen Engelsmans en landbouers (boere) nie….

H J Bester ·

Die Boeremag het met die hoogverraad-verhoor van die Boeremag-lede wat tans aan die gang is, werklik die Afrikaners in diskrediet gebring. Al die verregse fronte is inderdaad ‘n verleentheid vir die Arikaners omdat hulle anti-alles is en nie bereid is om enige bydra tot Suid-Afrika te maak nie buiten as om te kritiseer en mede Afrikaners sleg te sê.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.