Skierlik-skieter ‘kry nie spesiale behandeling’

Johan Nel tydens 'n hofverskyning in Julie 2008. Foto: Werner Beukes/SAPA

Johan Nel, wat tot vier keer lewenslange tronkstraf gevonnis is weens die moord op vier mense, kry nie spesiale behandeling in die tronk nie.

“Johan Nel is na ʼn gevangenis in Limpopo oorgeplaas. Hy ontvang geen spesiale behandeling nie,” het Sarie Peens, woordvoerder van die departement van korrektiewe dienste, gister gesê. Dit was in reaksie op Cosatu se bewering dat Nel spesiale behandeling ontvang. “Ons is ingelig dat die rasse moordenaar [Johan Nel] spesiale behandeling ontvang van korrektiewe dienste aangesien hy amper elke dag deur sy vrou besoek word terwyl die swart gevangenes slegs besoektye het wat deur bestuur vasgestel word,” het Cosatu beweer. Peens sê Nel is aanvanklik by ʼn sentrum vir jeugdiges aangehou waar hy toegang tot ʼn biblioteek gehad het. Sy sê hy is in Februarie na ʼn gevangenis in Limpopo oorgeplaas kort nadat hy getroud is by ʼn tronk in Rustenburg. Volgens Peens is die ouers van die paartjie toestemming gegee om die huwelikseremonie in die tronk by te woon. Nel het in Januarie 2008 die Skierlik-nedersetting naby Swartruggens binnegegaan, vier mense doodgeskiet en talle ander gewond.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.