“Skiet die boer” is haatspraak

Regter Colin Lamont het Maandag in die Suid-Gautengse hooggeregshof in Johannesburg beslis dat die woorde “Skiet die boer” haatspraak is.

Lamont het gelas dat dié woorde, sowel as “baya raypha” (hulle verkrag) nie weer in privaat of openbare hoedanigheid gesing mag word nie. Malema is ook beveel om ‘n gedeelte van AfriForum se regskostes te betaal. Malema het nie die hofverrigtinge bygewoon nie. Sy woordvoerder, Floyd Shivambu, wou nie kommentaar lewer of sê waar Malema is nie. AfriForum se uitvoerende hoof, Kallie Kriel, sê hulle is ekstaties oor die uitspraak aangesien hulle heeltyd geweet het “Skiet die boer” is haatspraak.

Lamont het verder in sy uitspraak gesê die woorde “skiet die boer” is neerhalend en skadelik. Hy sê daar is geen regverdiging vir die woorde om gesing te word nie. Lamont het gesê hoewel Afrikaners nie noodwendig politieke saamtrekke bygewoon het waar die lied gesing is nie, is hulle deur die media ingelig daaroor en was hulle dus deel van die gehoor. Lamont het ook daarop gewys dat woorde ‘n gevaarlike wapen kan wees. Hy sê haatspraak het ʼn invloed, nie net op die teikengroep nie maar ook die groep wat hom daaraan skuldig maak. Lamont het gedurende sy beslissing gesê die Gelykheidswet is op die been gebring om te verseker dat alle groepe in die land beskerm word. Hy het ook gesê dat een van dié wet se doelwitte is om minderhede te beskerm.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Stoffel Nel ·

Hierdie uitspraak is ‘n rigtingwyser vir almal in die land. Alles is geoorloof maar nie noodwendig heilsaam nie ……………….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.