Volgens berigte het sowat 200 ondersteuners by die Nirvana-gemeenskapsaal opgedaag om hul ondersteuning vir Malema te wys voor hy vandag in die Polokwane distrikshof verskyn op aanklagte van geldwassery. Die ondersteuners het ook ʼn lied in Pedi gesing, wat beteken ‘die stort man gee ons probleme…Malema bid asb vir ons.’ Die geskorste woordvoerder van die jeugliga, Floyd Shivambu, was ook by die nagwaak.
Intussen sê die polisie daar sal vandag streng veiligheidsmaatreëls geld wanneer Malema omstreeks 8:30 in die hof sal verskyn. Brig. Hangwani Mulaudzi, ʼn polisiewoordvoerder, sê verskeie paaie om die hof sal gesluit wees. Hy sê slegs ʼn beperkte aantal mense sal in die hof toegelaat word. “Geen gevaarlike wapens soos vuurwapens, messe, pangas of knopkieries sal buite die hof toegelaat word nie.” Malema sal verskyn op aanklag van geldwassery ten bedrae van R4 miljoen.