Skietery in Faerie Glen “was ‘n huurmoord”

Die moord Dinsdagoggend op ʼn jong ma in Faerie Glen, oos van Pretoria, “was beslis ʼn huurmoord”.

So sê die voorsitter van die plaaslike buurtwag, Fanus Johnson. Hy sê volgens ooggetuies is twee persone op ʼn motorfiets omstreeks 6:30 Dinsdagoggend in die omgewing gesien. Volgens die polisie het die voorval omstreeks 7:10 plaasgevind. Die oorledene is vroeër verkeerdelik deur die polisie geïdentifiseer as Chantal Hatting (25). ʼn Polisiewoordvoerder, ao. Duane Lightfoot, het egter aan Maroela Media bevestig dat die oorledene die 26-jarige Chanelle Henning was. Henning het glo haar seuntjie (5) by die kleuterskool afgelaai waarna twee mans op ʼn motorfiets glo verby haar gery het in Manitobastraat. Die passasier op die motorfiets het glo ʼn skoot aan die bestuurderskant van Henning se motor afgevuur. Henning se motor het ʼn paar meter verder teen die sypaadjie gebots. Omstanders het Henning uit die motor gehaal maar sy is deur paramedici op die toneel dood verklaar. Lightfoot sê daar is geen patroondoppies op die toneel gevind nie. Hy sê daar is gerugte dat Henning en haar vervreemde man glo in ʼn hofstryd gewikkel was rakende toesig oor hulle seuntjie. Niemand is nog in hegtenis geneem in verband met die voorval nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.