Skietery by Los Angeles-lughawe

Paul Anthony Ciancia

Paul Anthony Ciancia

‘n Sekuriteitswag is dood en sewe mense beseer nadat ‘n man Vrydag met ‘n aanvalsgeweer op mense by Los Angeles International Airport (LAX) in Amerika losgebrand het.

Reisigers het voor die enkele verdagte, die 23-jarige Paul Anthony Ciancia, probeer uitvlug. Ciancia het glo ‘n vuurwapen te voorskyn gebring en sy weg oopgeskiet deur ‘n sekuriteitspunt voordat hy in ‘n skermutseling met die polisie gestop is.

Die motief vir die skietery is nog nie duidelik nie, maar Amerika se Federale Buro van Ondersoek (FBI) het gesê hy kan nie terrorisme uitsluit nie. Die verdagte is glo in ‘n kritieke toestand in die hospitaal.

“Hy het by eindpuntgebou 3 ingekom, ‘n aanvalsgeweer uit ‘n sak gehaal en begin skiet. Hy het na die sekuriteitspunt beweeg en aanhou skiet,” het Patrick Gannon, hoof van die polisie by LAX, gesê. “Hy is toe na die hoofeindpuntgebou waar polisiebeamptes by die Burger King-restaurant hom voorgekeer het. Hulle het hom suksesvol in hegtenis geneem.” ABC berig Ciancia is vier keer geskiet.

Die Vervoersekuriteitadministrasie (TSA), wat sekuriteitswagte by lughawens ontplooi, het bevestig dat een van sy werknemers doodgeskiet is. “Sekuriteitsbeamptes is gewond in die skietery. Een het gesterf,” het die TSA in ‘n verklaring gesê.

Vlugte is vertraag toe die Federale Lugvaartadministrasie (FAA) alle vlugte, wat nog nie by hul oorspronklike bestemming opgestyg het nie, op houvas geplaas het.

Verskeie bekendes was ook ten tyde van die voorval by die lughawe, insluitend akteur James Franco, akteur en komediant JB Smoove, sanger Nick Jonas en “Mythbusters”-sterre Grant Imahara en Tory Belleci. Nie een van hulle is beseer in die voorval nie.
-SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Rudie Thirion ·

“op houvas geplaas” Nee gits, dit sit nie vir my lekker op die tong nie. Dis ‘n direkte vertaling van “put on hold”. Uitgestel is mos ‘n goeie Afrikaanse woord daarvoor.

leon ·

Ja hulle praat swaar afrkaans. Want pleks van lees verder I’d dit continue reading.

leon ·

Hulle praat maar deurmekaar afrikaans. Maroela se mense is seker engels? In plaas van lees verder is dit sommer continue reading.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.