Skokvideo: Zuma, winkeleienaar veroordeel aanval op ouma

David Alexander, die eienaar van die winkel waar ʼn vrou wreed aangerand is nadat sy glo onderklere gesteel het, het die aanval in sy winkel streng veroordeel.

Alexander, eienaar van CB Stores in Jane Furse in Limpopo, het onderneem om die voorval te ondersoek en dat hulle die slagoffer, Esther Mankge (49), sal bystaan, berig EWN.

“Noudat die vrou uitgeken is, is ons gereed om haar te help. Ons betoon medelye met Esther. Ons gaan met haar gesels, die aantygings ondersoek en haar ondersteun waar ons moontlik kan,” het hy gesê.

Volgens pres. Jacob Zuma het alle burgers in die land ʼn reg op menswaardigheid en beskerming onder die wet. “Afgesien van die beweerde misdaad, het alle burgers van die land ʼn onvervreembare reg tot menswaardigheid en toegang tot geregtigheid en die beskerming van die wet,” het hy gesê.

Zuma het die inhegtenisneming van die vyf verdagtes verwelkom en versoek dat reg sal geskied.

Maroela Media het vroeër berig Mankge is wreed deur ʼn groep mense met ʼn hamer, gordel, toue en selfs ʼn besemstok geslaan. Die agt minutelange selfoonvideo van die skokkende aanval is deur die Daily Sun op YouTube gelaai.

Matthew Makofane, Maria Mahlaela, Gladys Maphanga, Refilwe Mzimba en Thabang Makuwa het Maandag in die Nebo-landdroshof verskyn in verband met die voorval. Makofane en Mahlaela is elk op borg van R500 elk vrygelaat. Maphanga, Mzimba en Makuwa sal in aanhouding bly weens vorige bewerings van aanranding teen hulle, en gaan na verwagting Maandag in die hof verskyn om vir borg aansoek te doen.

Volgens Mankge het haar kinders die video op YouTube gesien en voel sy erg daardeur verneder, maar sy is bly dat die video tot die inhegtenisname van die verdagtes gelei het.

Klik hier om die video te sien. Waarskuwing: Die materiaal is grafies van aard en kan sensitiewe kykers ontstel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Lothar ·

Ek kan nog steeds nie oor daardie video kom nie! Haai shame man, hoe kan enige iemand ‘n oumens so mishandel? As ek kon sou ek Matthew Makofane, Maria Mahlaela, Gladys Maphanga, Refilwe Mzimba en Thabang Makuwa se koppe een vir een met dieselfde hamer wat hulle op die gogo gebruik het, inmekaar bliksem! Die goed is gemors! Elkeen van hulle!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.