Skole en studente verwelkom Helpende Hand-subsidie vir beter onderwys

Argieffoto

Argieffoto

Vyftig voornemende onderwysers pluk nou die vrugte van Solidariteit Helpende Hand se Projek Leerkrag. Dié 50 onderwysstudente word deur Helpende Hand gesubsidieer en word by 23 skole regoor die land as onderwysassistente ingespan om die druk op oorlaaide onderwysers te verlig en terselfdertyd waardevolle indiensopleiding te ontvang.

Met Projek Leerkrag tree Helpende Hand daadwerklik op en bied enersyds ʼn oplossing vir oorvol klaskamers en oorwerkte onderwysers en andersyds ontvang die onderwysstudente indiensopleiding.

Hendrik Hoogenboezem is die onderwysassistent by die Laerskool Anton van Wouw in Nieuw Muckleneuk, Pretoria. “Hierdie subsidie stel my in staat om in die klas, by ʼn uitstekende skool, opleiding te ontvang,” sê hy. “Boekekennis kan jou nie leer wat jy in die praktyk kan leer nie.”

Esmarie Breytenbach, ʼn onderwysassistent by die Omega Akademie CVO-skool in Kareedouw, Oos-Kaap, beaam die waarde van Projek Leerkrag. “Hierdie subsidie is die grootste geskenk wat iemand my nog gegee het,” sê sy. “Hierdeur kan ek my droom verwesenlik.”

Dit is vir skole ook van belang om te belê in jong Afrikaanse onderwysers.

 

“Ons glo dat ons ʼn verskil in aspirant-onderwysers se lewens kan maak deur hulle van die beste moontlike opleiding te voorsien,” sê mnr. Chris Kruger, skoolhoof van Laerskool Oosterkruin.

Volgens mnr. Bennie Holmner, die skoolhoof van Laerskool Tini Vorster in Nigel, verwelkom hulle Helpende Hand se subsidie vir onderwysassistente. “Die gemiddelde ouderdom van ons skool se onderwyspersoneel is bo vyftig jaar. Dit beteken dat daar oor ʼn paar jaar ʼn dringende behoefte aan gekwalifiseerde jong Afrikaanse onderwysers gaan ontstaan. Ons leerders het hierdie ‘jong bloed’ as rolmodelle nodig. Die subsidie bied waardevolle indiensopleiding om gehalte-onderwys te verseker.”

Mnr. Carel van Dyk, die skoolhoof van Laerskool Hermanstad, sê salarisse is hulle enkele grootste uitgawe. “Die subsidie van Projek Leerkrag is onontbeerlik om die skool aan die gang te hou en effektiewe onderrig te verseker.”

Die waarde van manlike onderwysers vir laerskole word ook hoog geag.  

“Mansonderwysers op laerskoolvlak is skaars en daarom wil ons hulle sover moontlik help,” sê mnr. Nico Coetzee, die skoolhoof van Laerskool Tygerpoort.

Jaco Pieters is ʼn onderwysassistent by Laerskool Oosterkruin. Hy het op die gevorderde ouderdom van 32 besluit om sy roeping te volg en onderwys te studeer. “Ek wil ʼn onderwyser wees om die jeug van vandag reg op te voed en hulle aanpassing in die samelewing te vergemaklik.” Aangesien hy getroud is en twee kinders het, help die finansiële ondersteuning vanaf Helpende Hand hom om sy verpligtinge na te kom.

“Ons is baie opgewonde om hierdie eerste 50 onderwysassistente in skole te plaas,” sê Riaan du Plooy, adjunk uitvoerende hoof: onderwys en opleiding van Helpende Hand. “Dit is die eerste stap in ’n groot droom wat nou verwesenlik word. Hiervandaan gaan die projek net groter word.”

Sit die krag terug in leerkrag! SMS die woord “onnie” en jou skool se naam vandag nog na 34388. Elke SMS kos R2.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

frana ·

hi as dit moontlik is kan iemand my kontak besonderhede gee oor helpende hand- subsidie vir beter onderwys asb
groete frana

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.