Skole-rugbyspeler slaan skeidsregter glo bewusteloos

Chris de Beer Foto: Craig Nieuwenhuizen

ʼn Hoërskool-rugbyspeler staar kriminele aanklagte in die gesig nadat hy ʼn skeidsregter glo tydens ʼn toernooi in Mookgophong (voorheen Naboomspruit) bewusteloos geslaan het.

Chris de Beer (37) van die Blou Bulle Rugbyskeidsregtersvereniging (BBSV) is gevloek en toe bewusteloos geslaan, het Beeld berig. Volgens De Beer was hy die skeidsregter in ’n wedstryd tussen die Hoërskole Hans Strijdom en Alberton. “Die wedstryd was sonder enige voorvalle, lekker hard en taai, maar later het Alberton die oorhand begin kry. Sowat twee minute voor die einde van die wedstryd het ek nr.17 van Hans Strijdom met ’n rooikaart van die veld gestuur omdat hy ’n Alberton-speler met die kop geslaan het. Ná die wedstryd het ek na die speler gestap om sy nommer te bevestig omdat ek ’n verslag daaroor moet skryf. ‘n Ander speler het my toe voor die bors gegryp, vir my gesê ek het lekker k** geblaas en my met die kop teen die wang geslaan,” het De Beer gese. Hy was ’n paar minute lank bewusteloos en is deur ’n paramedikus op die veld behandel. Die seun is van Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong, Limpopo.

De Beer lê bewusteloos op die veld Foto: Beeld

De Beer sê hy het ʼn saak van aanranding by die polisiestasie in Mookgophong aangemeld en sal Dinsdag met ʼn regsverteenwoordiger van die BBSV vergader om ʼn moontlike siviele eis vir skadevergoeding te bespreek. Ontwikkelingsbeampte van die unie, Kosie Horn, sê dit is ʼn voortdurende stryd om nuwe skeidsregters te bekom weens die verbale mishandeling deur ouers, spelers en onderwysers. Die seun is vir die res van die jaar verbied om rugby te speel. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

stephan ·

Ek stem nie saam dat toeskouers of spelers hetsy junior of senior aan n skeidsregter slaan of stamp nie.Ek blameer hierdie voorval vierkantig op die Blou bulle skeids regters unie.Die ding met Spook”Chris de Beer”kom nou al n paar jaar.Daar is al verskeie kere oor hom gekla.Ek het geweet dit gaan kom.Hy het al verkeie kere net net reg gekry om ongeskonde van die veld af te stap.Die nodige klagtes is dan by die unie aanhangig gemaak,maar nie veel het daarvan gekom nie.Jammer Chris,jou unie het jou gefaal,en jy weet dat jy n omstrede skeidsregter is wat nie die nodige hulp van jou unie gekry het nie.

Paul ·

Die een wat eerste slaan, is die een wie se idees eerste opgeraak het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.