Skole sluit weens Bronkhorstspruit-betogings

Betogings in Bronkhorstspruit Foto: @kurtizz01, Twitter

Betogings in Bronkhorstspruit Foto: @kurtizz01, Twitter

Verskeie skole in die Bronkhorstspruit-omgewing is Donderdag gesluit weens gewelddadige diensleweringsbetogings teen die Tshwane-metro in die gebied.

Phumla Sekhonyane, die woordvoerder van die Gautengse departement van onderwys, het aan Maroela Media gesê dit is ʼn voorsorgmaatreël om die veiligheid van leerlinge, onderwysers en ander werkers te verseker.

“In gevalle waar skole weens betogings ontwrig word, werk ons distrikskantoor saam met die betrokke skole om weer op datum met die skoolprogram te kom,” het sy gesê.

Dit is nog nie bekend hoe lank die skole gesluit gaan wees nie.

Intussen het die burgemeester van die Tshwane-metro, raadslid Kgosientso Ramokgopa, Donderdagmiddag met kerk- en gemeenskapsleiers in die gebied vergader in ʼn poging om ʼn einde aan die gewelddadige betoging te bring.

Die polisie moes vroeër die dag met rubberkoeëls op betogers skiet om die situasie onder beheer te bring.

Die inwoners het aangedui dat hulle nie meer deel van die Tshwane-metro wil wees nie. Streek Sewe, wat voorheen onder beheer van die Kungwini-munisipaliteit was, is in 2011 deur die Tshwane-metro oorgeneem. Die gemeenskap sê sedert die samesmelting betaal hulle aansienlik meer vir dienslewering.

Die betogers het Woensdag verskeie geboue insluitend ʼn kliniek en ʼn gemeenskapsaal in die Rethabiseng informele nedersetting afgebrand. Betogers het ook begin versprei na ander nabygeleë informele nedersettings asook Bronkhorstspruit se dorpsgebied. Altesaam sewe geboue, waaronder ʼn polisiestasie, is al aan die brand gesteek sedert die betogings begin het.

Die Tshwane-metro het Dinsdag in ʼn verklaring gesê inwoners van Bronkhorstspruit, Rethabiseng en Zithobeni in die metro se Streek Sewe, betoog omdat hulle nie voorafbetaalde elektrisiteit kan koop nie.

Blessing Manale, ʼn woordvoerder van die metro, het gesê voordat Streek Sewe met die stad saamgesmelt het, het die streek gebruik gemaak van die Conolog-stelsel om voorafbetaalde elektrisiteit te verskaf. Dié stelsel het verlede Maandag ineengestort.

Lees ook:
Bronkhorstspruit-betogers brand kliniek ook af
Meer as 50 Bronkhorstspruit-betogers in hegtenis geneem
Bronkhorstspruit onluste: Biblioteek en huis ook afgebrand
Video: “Ons is al ‘n week sonder krag”
Foto: Betogers brand Bronkhorstspruit-polisiestasie af

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Demokraat ·

Mens kry die indruk dat die betogings oor dienste en dergelike sake, al meer en meer eskaleer – dit grens al bykans aan anargie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.