Vier mans is Vrydag in Welkom in die Vrystaat in hegtenis geneem vir die besit van dagga.
“Die polisie was besig om die middestad te patrolleer toe hulle twee verdagte leerlinge in skoolklere gesien het. Hulle is gestop en deursoek en die polisie het dagga in hul broeksakke opgespoor,” het kapt. Stephen Thakeng, woordvoerder van die polisie in die Vrystaat, gesê. “Die skoliere het die polisie toe na twee mans gelei.”
“Die polisie en die twee verdagtes is na ‘n huis in Rheederpark waar hulle die huurder van ‘n kamer op die eiendom en nog ‘n man aangetref het. Dié twee mans het dagga ter waarde van sowat R2 400 by hulle gehad en hulle is in hegtenis geneem,” het Thakeng bygevoeg. Twee ander mans is ook aangekeer.
Die vier mans, tussen 20 en 32 jaar oud, sal binnekort in die landdroshof in Welkom verskyn. Die skoliere is nie in hegtenis geneem nie.