Skoolgeld nóg duurder in 2013

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys is glo “geskok” en “kwaad” oor hoeveel dit sal kos om ‘n regeringskool volgende jaar by te woon.

Ouerbeheerliggame van top staatskole regoor die land het die afgelope maand vergader om die fooiverhoging te bespreek en sommige beloop tot meer as R30 000 per jaar, berig City Press. Motshekga het die afgelope week skoolbeheerliggame daarvan bekuldig dat hulle openbare onderwys wil “privatiseer” en die “onbekostigbaar” maak vir meeste ouers.

Die duurste skool is glo Durban se Westville Hoërskool wat R31 111 skoolgeld per jaar eis. Marist Brothers’ Junior Laerskool in Kaapstad, wat hierdie jaar R30 834 per Graad 7-leerling gekos het, het nog nie hul fooie vir 2013 bekendgemaak nie. Ander skole wat ook nog moet besluit is Parktown Hoër Seunskool wat hierdie jaar R28 850 gekos het, en Port Elizabeth se Grey Hoërskool wat R28 320 gekos het.

“Dit is ‘n groot probleem en selfs minister Naledi Pandor (voormalige minister van onderwys) het probeer om dit aan te spreek. Daar is egter niks wat ons kan doen nie, aangesien skoolbeheerliggame die reg het om begrotings goed te keur,” het Motshekga gesê. “Dit is ‘n groot bekommernis; dit beteken dat, indien jy drie kinders het, jy tot R100 000 per jaar aan skoolgeld kan betaal. Dit is onbekostigbaar vir meeste ouers.”

Paul Colditz, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), sê talle skole het, weens hoër elektrisiteitsheffings en ander munisipale dienste, nie ‘n ander opsie as om die skoolgeld te verhoog nie. Volgens Colditz moes hulle ook salarisse verhoog van bykomende onderwysers om klasgroottes te beperk.

Volgens Colditz word skole, wat skoolgeld vra, in drie kategorieë verdeel. Die eerste kos tussen R5 000 en R12 000 per jaar en het baie min sportgeriewe, buitemuurse aktiwiteite of addisionele vakke. Die tweede kos tot R20 000 per jaar en bied bo-gemiddelde sportgeriewe, buitemuurse aktiwiteite en addisionele vakke. Die derde kategorie beloop tot R31 000 per jaar en word deur welaf kinders bygewoon wat toegang het tot die beste sportgeriewe, musiekklasse, onderwysers wat ekstra vakke aanbied en ‘n wye reeks buitemuurse aktiwiteite.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.