Skoolhoof pleit onskuldig

Carol Drysdale, hoof van Laerskool Rivonia, het Dinsdag onskuldig gepleit op klagtes van wangedrag en insubordinasie.

Die klagtes hou verband met die toelating van ‘n graad 1-leerling en plaas die fokus op wie die finale sê het wanneer ‘n skool sy volle kapasiteit bereik het, berig EWN. Die verhoor het Dinsdag by die departement van onderwys se kantoor in Johannesburg plaasgevind. EWN is toegelaat om die verhoor, wat na verwagting twee dae lank sal duur, by te woon.

Die departement het vier afsonderlike pogings beskryf waarin dié leerling toelating tot die skool probeer bekom het. Die skool het gesê dat hy reeds sy volle kapasiteit bereik het en dat die ouer die kind te laat ingeskryf het.

Die departement het ingegryp en die skool gedwing om die 6-jarige leerder toe te laat.

Die departement het die klagtes teen Drysdale voorgelees. Haar loopbaan is nou in die gedrang. Drysdale het onskuldig gepleit en die departement het sy eerste getuie geroep.

Qiniso Zwane, direkteur van regsdienste, het gesê dat Drysdale gekies het die beheerliggaam van die skool se besluit bo dié van die departement te stel. “Die outoriteit van die beheerliggaam om die beleid saam te stel kan nie die funksie van die LUR oorheers nie, om seker te maak dat alle leerders in die provinsie toelating tot skole bekom,” het Zwane gesê.

Diegene wat met die skool simpatiseer het gesê die verhoor is niks anders as ‘n “heksejag” nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.