Skoolhoof se vrou vir fiets aangeval

Suzette Beneke is Woensdagoggend aangeval en met ʼn mes in haar gesig gesteek nadat ʼn rower haar fiets wou steel. Suzette se man, Willie, is die hoof by Laerskool Bergsig in die weste van Pretoria.

Kolonel Johan de Villiers, van die Hercules-polisiestasie, kon nog nie die slagoffer se identiteit bekend maak nie, maar het wel aan Maroela Media bevestig dat ʼn vrou in Mountain View aangeval is.

“Ek kan bevestig dat ʼn vrou aangeval is nadat ʼn rower haar fiets wou steel. Die vrou het haar glo verset en is met ʼn mes in die gesig gesteek,” het De Villiers gesê. Die aanvaller het sonder die fiets van die toneel gevlug. Die vrou is na ʼn nabygeleë hospitaal geneem vir behandeling.

Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie. Die Hercules-polisie ondersoek ʼn saak van poging tot roof.

Volgens een van die personeellede by die skool is Suzette blykbaar reeds uit die hospitaal ontslaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.